Ontwrigting wat veroorsaak word deur protesoptredes by skole, soos nou by die Hoërskool Overvaal, is onaanvaarbaar en die VF Plus gaan ‘n privaatlid-wetsontwerp indien met die doel om protesoptredes, wat enige ontwrigting naby ‘n skool mag veroorsaak, te verbied, sê adv. Anton Alberts, voorsitter van die VF Plus.
Volgens adv. Alberts is die noodsaaklikheid hiervoor vergroot deur ‘n onlangse hofuitspraak in die Wes-Kaapse Hooggeregshof wat wyer toegewings maak wat protesoptredes aanbetref.
"Die VF Plus se beoogde privaatlid-wetsontwerp is van die grootste belang om ten minste skoolkinders teen ontwrigting te beskerm."
In dié saak het regter Thandazwa Ndita beslis dat vreedsame betogings sonder kennisgewing aan die owerhede, nou toelaatbaar is.
Luidens ‘n berig in die Cape Argus, het regter Ndita bevind die kriminalisering van 'n byeenkoms van meer as vyftien mense op grond daarvan dat geen kennis gegee is nie, die Grondwet oortree aangesien dit mense verhinder om hul fundamentele grondwetlike reg uit te oefen om vreedsaam en ongewapend te vergader.
Volgens die regter is die vorige beperking nie redelik en regverdigbaar in 'n “oop demokratiese samelewing gegrond op die waardes van vryheid, waardigheid en gelykheid” nie.
“Dit kan reuse ontwrigting veroorsaak en die deur oopmaak vir vandalisme en geweld indien ‘n groot optog sonder enige vooraf waarskuwing in ‘n stad of dorp gehou word aangesien die owerhede en wetstoepassers nie die geleentheid sal kry om daarop voor te berei nie.
“Die grootste ontwrigting sal egter vir gewone mense wees wat betyds by die skool of werkplek moet uitkom.
“Dit neem die regte van vredeliewende landsburgers hoegenaamd nie in ag nie, en die VF Plus se beoogde privaatlid-wetsontwerp is daarom van die grootste belang om ten minste skoolkinders teen ontwrigting te beskerm en in die algemeen kinders se fundamentele regte, soos in die Grondwet vervat, aan te vul,” sê adv. Alberts.


