Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

DA-mosie om parlement te ontbind was irrasioneel

Die mosie van die DA om die parlement te laat ontbind en sodoende ‘n vroeë verkiesing af te dwing, was irrasioneel, en sal die golf van optimisme onder kiesers breek wat met die samewerking van opposisiepartye tydens die mosie van wantroue in die president geheers het, sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.

Dr. Groenewald het vandag in die parlementêre debat oor die mosie gesê indien die mosie suksesvol sou wees, sou dit beteken dat ‘n verkiesing op nasionale vlak binne negentig dae gehou sal moet word, en in 2019 weer ‘n verkiesing op provinsiale vlak.

Hy het gesê die Verkiesingskommissie sal nie binne drie maande genoegsaam kan voorberei om ‘n vry en regverdige verkiesing te verseker nie.

“Met die vorige verkiesing was meer as 266 000 werkers nodig om seker te maak die verkiesing verloop glad. Dit is onmoontlik om soveel mense gereed te kry in negentig dae.

“Dit beteken drie verkiesings binne vyf jaar, wat bloot nie bekostigbaar is vir die belastingbetalers van Suid-Afrika nie. Daardie geld kan beter aangewend word om dienslewering te verbeter.

“Hierdie was nie ‘n ernstige besluit van die DA nie. Sy leier is nie eers hier teenwoordig nie. Met die mosie van wantroue was daar optimisme onder die kiesers van Suid-Afrika. Hulle het polities betrokke geraak en het besef jy kan vir enige politieke party van jou keuse stem wat jou waardes deel en jy kan sodoende ‘n bydrae lewer om ‘n regering te verander,” het dr. Groenewald gesê.

Dr. Groenewald het ook die ANC skerp gekritiseer en gesê die doel van die mosie was allermins om die ANC se aandag van dienslewering af te lei soos wat ‘n ANC-spreker aangevoer het.

“Die ANC is besig om sy eie aandag af te lei van dienslewering, en hy misbruik selfs hulpbronne van die staat in die binnegevegte van sy leierskapstryd,” het dr. Groenewald gesê.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.