Die VF Plus het die Midvaal-munisipaleit (De Deur/Walkerville, Eikenhof, Meyerton, Vaal Marina) gevra om die munisipale tariewe in die volgende finansiële jaar nie te verhoog nie.
Die party se Midvaal-koukus het in ‘n brief aan die burgemeester, Bongani Baloyi, geskryf dat die gebruiklike jaarlikse tariefaanpassing die reeds geknelde bevolking van Midvaal finansieel verder kan verlam.
Verskeie ondernemings in Meyerton, De Deur, Eikenhof en Vaal Marina het geen ander keuse as om hul deure permanent te sluit nie, terwyl oorblywende sakelui onder geweldige druk verkeer. Baie werkers is afgelê en is nou van kospakkies afhanklik.
Die Midvaal-munisipaliteit is ingevolge die Rampbestuurswet gedwing om slegs noodsaaklike dienste te lewer en kon dus op hul begroting spaar deur geen uitgawes aan te gaan nie vir oortydbetalings, onderhoud aan openbare parke en paaie, reis- en verblyfuitgawes vir amptenare en raadslede, subsidie-uitbetalings, konferensie-bywoning en meer.
Die munisipaliteit is daarvolgens in die posisie om belastingbetalers tegemoet te kom deur belasting- en tariefverligting. Daar kan selfs verder voorsiening gemaak word vir diegene wat deur Covid-19 benadeel is.
Inflasieverhogings op tariewe en belasting is in hierdie stadium nie haalbaar nie. ‘n Verhoging kan daartoe lei dat huiseienaars en sake-ondernemings nie in staat sal wees om hul agterstallige munisipalerekening in die toekoms in te haal nie en dit kan lei tot die verdere finansiële agteruitgang van inwoners en die dorp.
Die Midvaal-munisipaliteit het ‘n verpligting teenoor sy inwoners en sake-ondernemings om hulle tydens hierdie inperkingstydperk te help om finansieel te oorleef en in om hulle in staat te stel om na die inperkingstydperk weer die ekonomie van die dorp te versterk.
Kontaknommer: 082 373 5052