Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus versoek Noordwes-premier om dringend in te gryp by kragprobleme in Kgetlengrivier en Rustenburg

Die VF Plus het vandag in ‘n skrywe aan die premier van Noordwes, Bushy Maape, versoek dat daar dringend ingegryp word in die voortslepende kragprobleme by die plaaslike munisipaliteite van Kgetlengrivier (Koster, Derby en Swartruggens) en Rustenburg (Hartbeesfontein-A, Marikana, Phatsima, Rustenburg, Tlhabane).

Benewens gereelde kragonderbrekings weens die gebrekkige onderhoud van kraginfrastruktuur, word inwoners geteister deur verdere onderbrekings weens die grootskaalse stroping van kragkabels en ander toerusting.

Die Triden-substasie in Rustenburg, Eskom se hoof-kragverspreidingspunt, word skynbaar ook gereeld op ‘n gesofistikeerde wyse gesaboteer wat dui op die moontlike betrokkenheid van kopersindikate in die gebied.

Grootskaalse kabeldiefstal vind soos klokslag plaas wanneer die kragtoevoer na die hoof-Eskomlyne, wat krag aan Kgetlengrivier voorsien, onderbreek word. Hierdie kommerwekkende tendens het veral in die afgelope twee maande posgevat.

Die omvang van die skade en die bykomende finansiële las op inwoners, boere en sakelui, is enorm.

Alhoewel die VF Plus reeds verskeie aksies op plaaslike vlak geloods het om die owerhede by te staan om die kragtoevoer te herstel en substasies teen vandalisme en diefstal te beskerm, is dit korttermyn-oplossings en nie volhoubaar nie.

Die VF Plus het dus die premier versoek om dringend ‘n vergadering te belê met alle belanghebbendes om ingryping op ‘n hoë vlak te verseker en ‘n langtermyn-oplossing vir die probleem te vind.

Buiten vir Eskom, moet die polisie op provinsiale vlak, die munisipale bestuurders van die geraakte munisipaliteite, hul wetstoepassingshoofde asook die provinsiale departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) by die vergadering betrek word.

Die VF Plus sal voortgaan om druk toe te pas op die provinsiale wetgewer en munisipaliteite om te verseker dat alle betrokkenes op ‘n gekoördineerde wyse saamwerk om krag- en ander kritieke infrastruktuur te beskerm en te onderhou.

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.