fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus eis dat rampgebiede in Vrystaat aangekondig word

Die VF Plus het ‘n brief geskryf aan die Vrystaatse premier, Sisi Ntombela, waarin geëis word dat die gebiede waar grootskaalse skade weens die buitengewone reënseisoen aangerig is, tot rampgebiede verklaar word.

Daar moet daadwerklike bystand aan alle boere in hierdie gebiede verleen word.

Die Vrystaatse regering het ‘n verantwoordelikheid om tydens buitengewone omstandighede, soos die afgelope weke se swaar reënval en gevolglike landbouverliese, op te tree.

Die provinsie kan nie bekostig om sy boere nie by te staan nie. Landbou se bydrae tot die provinsie en die res van die land is te kosbaar en optrede deur die Vrystaatse regering is nou broodnodig.

Indien die premier ernstig is om voedselsekuriteit in die Vrystaat te verseker, sal sy alles in haar vermoë doen om die provinsie se landbousektor by te staan en die nodige gebeurlikheidsplanne in werking stel.

Rampverligting moet aan alle boere in die gebiede verleen word en die ramptoestand moenie soos in die verlede hulp aan kommersiële landbouers uitsluit nie.

‘n Ramptoestand vir die geraakte gebiede sal ‘n begin wees om verligting aan boere te bring wat skade en verliese gely het.

Wanneer 'n rampgebied verklaar word, sal die VF Plus ook die betrokke munisipaliteite versoek om ingevolge die Munisipale Eiendomsbelastingswet die grondbelasting van die geaffekteerde boere vir 'n jaar op te skort.

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.