Rioolstorting in die veld buite Kimberley is reeds etlike jare 'n probleem in die stad. Nie alleen die Gogga-pompstasie tussen Kimberley en Platfontein nie, maar ook die Carter's Glen-pompstasie naby die Gariep Hospitaal funksioneer benede peil en veroorsaak rioolstortings.
Op 30 September het die VF Plus gerapporteer dat die aanstelling van 'n kontrakteur om die Carter's Glen-pompstasie te herstel, 'n stap in die regte rigting is. Die party het ook onderneem om die saak deeglik dop te hou.
Sedertdien het dit tydens 'n vergadering van die komitee vir gemeenskapsdienste geblyk dat die munisipaliteit se afdeling vir omgewingsgesondheid nie teen ander afdelings van die munisipaliteit kan optree nie.
Die hoof van omgewingsgesondheid, mnr. Keith Williams, moes antwoord waarom hy nie optree teen die gesondheidsrisiko wat deur rioolstortings geskep word nie. Sy reaksie was dat hy 'n verslag opgestel het en na die afdeling vir infrastruktuur en die kantoor van die munisipale bestuurder gestuur het, sonder enige gevolg.
Dit blyk dus dat gesondheidsinspekteurs met uitgebreide bevoegdhede teenoor besighede en inwoners wat gesondheidsrisiko's skep, se hande afgekap is wanneer die munisipaliteit self die oortreder is.
Volgens die VF Plus is hierdie 'n leemte wat op die wetgewende vlak reggestel behoort te word.
Navrae: 083 454 9410