fbpx
Vryheidsfront Plus

Sinlose klipdood van Kaapse onderwyseres skok

Die VF Plus het met afgryse verneem van die sinlose dood van ‘n onderwyseres in die Paarl, mev. Michele Pietersen (58) wat vanoggend dood is toe ‘n persoon langs die pad ‘n klip deur die ruit van die motor gegooi het waarin sy en haar man, mnr. Anton Pietersen, gery het.

Luidens ‘n mediaberig was mev. Pietersen ‘n “gewilde en geliefde” wetenskaponderwyseres by die Sekondêre Skool New Orleans in die Paarl. Die egpaar was vroegoggend van Kaapstad onderweg na die Paarl toe die voorval naby die wynplaas Simonsvlei op die N1 gebeur het.

Suid-Afrika se buitensporige hoë moordsyfer is bekend. En elke sinlose moord, hetsy dit ‘n plaasaanval, bendemoord, rooftog of motorkaping is, is ‘n skokkende getuigskrif van ‘n land waar menselewens goedkoop geraak het en waar gewetenlose misdadigheid ‘n alledaagse geword het.

Vir die VF Plus grens ‘n voorval soos hierdie nie net aan misdadigheid nie, maar aan boosheid. Die persoon wat die klip gegooi het, het in die donker nie geweet wie in die motor is nie. Daar kon kinders in die voertuig gewees het, selfs een van sy eie familielede.

Dit het nie saak gemaak nie en die persoon het nogtans die klip gegooi, ongeag. Moontlik is hy nie bewus daarvan dat hy sonder enige gevoel ‘n steunpilaar sonder enige rede hoegenaamd uit die samelewing weggeruk het nie.

Die skool beskryf dit goed deur ‘n sosiale media-plasing wat lui dit is 'n baie hartseer dag vir “almal van ons”, en dat ‘n vriendin, kollega en geliefde onderwyseres dood is in ‘n “tragiese, onnodige en gewelddadige daad”.

Die VF Plus wil sy opregte meegevoel met die gesin, familie en die hele gemeenskap betuig en wil in hierdie geval, soos met elke misdaad wat iemand onnodig van sy naasbestaandes ontneem, sê dit kan nie so voortgaan nie. Genoeg is genoeg.

Kontaknommers: 083 626 1497 / 065 801 7216

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.