Gemeenskappe moet deur skoolbeheerliggame self die beheer oor hul skole neem – ook wat kurrikulum betref. Dit is die enigste redelike reaksie op die minister van basiese onderwys se mees onlangse uitspraak oor omvattende seksualiteitsonderrig.
In 'n parlementêre vraag tydens die debat oor die aanwasbegroting, is minister Angie Motshekga gevra of ouers die reg sal hê om hul kinders uit klasse te onttrek en 'n alternatiewe kurrikulum aan te bied.
In haar antwoord het die minister verklaar dat ouers skool toe sal moet kom om hul kinders tydens hierdie klasse op te pas. Volgens haar is dit die enigste manier waarop die ouers dié keuse kan uitoefen.
Boonop het Motshekga weereens 'n karikatuur van die besware teen die beleid geskets en kleinerend daarop gereageer.
Die VF Plus herinner skoolbeheerliggame sowel as die minister daaraan dat openbare skole aan gemeenskappe – en nie aan die staat nie – behoort.
Verder stel die departement minimumvereistes deur middel van kurrikulumverklarings, die sogenaamde CAPS. Op skoolvlak is die inhoud onderwysers se verantwoordelikheid – solank dit aan die minimumvereistes voldoen.
Skole, deur middel van onderwysers, beheerliggame en ander ouers, kan en behoort dit op hulself te neem om geskikte leermateriaal te ontwikkel. Dit is 'n vorm van burgerlike aktivisme wat die tirannieke departement van basiese onderwys nie op die duur sal kan teenstaan nie.
Kontaknommer: 074 166 5540