Ten spyte van versoeke deur die regering aan munisipaliteite om munisipale belasting en -tariewe binne die huidige inflasieperke van ongeveer 6% te hou, het Midvaal-stadsraad (De Deur/Walkerville, Eikenhof, Meyerton, Vaal Marina) nie in hul 2018/19-begroting hieraan gehoor gegee nie.
Die tariewe vir vullisverwydering en riool asook eiendomsbelasting is hoër as die aanvaarbare perk.
Soos wat dit die afgelope aantal jare die geval was, is die inkomste verlies vir water en elektrisiteit steeds hoër as die aanvaarbare norm en die invordering van agterstallige eiendomsbelasting is aan die toeneem.
Met inagneming van ‘n 7% salarisverhoging, groei die salarisrekening met ‘n kommerwekkende 35% in 2019 en 55% in 2020.
Die onregverdige salarisgaping tussen senior bestuur en amptenare word weerspieël deur die feit dat die ses top amptenare van Midvaal gesamentlik R10 miljoen per jaar verdien terwyl die balans van R200 miljoen tussen 700 amptenare verdeel moet word.
Behalwe dat die VF Plus nie die begroting steun nie, heers daar groot kommer oor die toename in sporadiese gewelddadige betogings op die R59. Hierdie protesaksies benadeel die beeld van Midvaal as beleggingsopsie en berokken groot skade aan die provinsiale- en nasionale ekonomie.
Kontaknommer: 082 560 1414