Die premier van Gauteng, mnr. David Makhura, se plan om Artikel 25 van die Grondwet in Gauteng te toets deur ongebruikte grond en onbesette geboue in die provinsie sonder vergoeding te onteien en aan ander te oorhandig, is onwettig.
Die premier is nie by magte om so 'n plan uit te voer nie en indien hy wel daarmee sou voortgaan, gaan hy hom lelik vasloop in 'n muur van openbare weerstand in Gauteng.
Die VF Plus wil die premier en die ANC in die provinsie daarop wys dat die premier slegs by magte is om so 'n proses uit te voer met provinsiale grond en eiendom, en nie met private grond en eiendom nie.
Ingevolge die Wet op Grondadministrasie, Wet 11 van 1996, is die premier se magte beperk tot provinsiale grond en eiendom. Hierdie wet is deur die Gautengse Provinsiale Wetgewer aanvaar op 20 Desember 1996 en is deur die destydse premier onderteken.
Die premier van Gauteng minag sy eie regering se provinsiale wetgewing en beplan om onregmatig op te tree om Artikel 25 van die Grondwet op sy eie te toets.
Hy is duidelik nie bereid om te wag vir die bevindinge van die parlement se grondwetlike hersieningskomitee wat aanbevelings moet maak oor onteiening sonder vergoeding nie.
Die VF Plus het verlede week meer as ‘n 100 000 beswaarskrifte teen onteiening sonder vergoeding by die parlement ingedien.
Kontakbesonderhede: 060 556 4347