fbpx
Vryheidsfront Plus

Ekonomiese groei in die Vrystaat sal nie onder ANC-regering plaasvind nie

Ekonomiese groei sal nie in die Vrystaat of in Suid-Afrika gedy onder die belaglike beleidsrigting van die ANC nie. Een van die grootste bydraende sektore in die Vrystaat tot die nasionale BBP, naamlik die landbousektor, word herhaaldelik gekniehalter deur verskeie faktore soos die onsekerheid met betrekking tot eiendomsreg as gevolg van onteiening sonder vergoeding, ontoereikende droogtehulp en ‘n tekort aan regeringsondersteuning vir landbouers.

Die R38 miljoen wat vir Macufe begroot is kon eerder die ontoereikende R13,5 miljoen wat vir droogtehulp geallokeer is aangevul het. Hierdie fondse sou beter aangewend wees om voedselsekerheid te beskerm, werkskepping te stimuleer en kommersiële boere van ondergang te red.

Die vermindering in voorwaardelike toekennings vir landbou-ondersteuningsprogramme van nagenoeg R20 miljoen oor die mediumtermyn, bewys dat die ANC nie erns het met die belangrikheid van die landbousektor nie.

Werkloosheid in die provinsie word ook nie voldoende deur die mediumtermynbegroting aangespreek nie.

Die Vrystaat se werkloosheidsyfer is ver bo die nasionale gemiddeld en sal nie verbeter indien ekonomiese groei nie gestimuleer word nie. Die ondoeltreffendheid van die provinsiale departement van ekonomiese ontwikkeling dra by tot die hoë werkloosheidsyfer en beklemtoon die VF Plus se beleidsvoorstel dat departemente verminder en meer vaartbelyn gemaak word.

Swart ekonomiese bemagtiging moet afgeskaf word en die privaatsektor in staat gestel word om die ekonomie te stimuleer en werk te skep.

Munisipaliteite in die Vrystaat het misluk. Munisipaliteite onder provinsiale administrasie is nog slegter daaraan toe. Fondse wat vir die munisipale herstelplan geoormerk word is te min en sal in elk geval deur munisipaliteite op verkeerde prioriteite vermors word.

Salarisrekeninge van munisipaliteite en departemente is te hoog. Die staat is nie veronderstel om werk te skep nie, maar moet eerder die ekonomie stimuleer deur behoorlike dienslewering ten einde die privaatsektor in staat te stel om werk te skep.

Die VF Plus se voorstel van kleiner munisipaliteite, naamlik een per dorp, met minder personeel en ‘n doeltreffende diensleweringsplan is die oplossing vir hierdie geweldige probleem.

Die ANC-regering pas jaar na jaar dieselfde plan toe, waarin dieselfde projekte geprioritiseer word, met dieselfde redes en regverdigings en jaar na jaar misluk dit.

Die mense van die Vrystaat betaal elke keer die prys vir die regerende party se verkeerde prioriteite.

Dit is tyd om terug te slaan teen hierdie magsvergrype, om terug te slaan vir ‘n beter regering, beter dienslewering en ‘n ekonomies volhoubare Vrystaat.

Kontaknommer: 082 490 6663

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.