Wie polisieer die Polisie? Hierdie vraag dui op die noodsaaklikheid daarvan om groter onafhanklikheid te gee aan die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) deur die Wysigingswetsontwerp op Opod wat daaraan gestalte moet gee.
Dit is nogtans jammer dat daar gewag moes word vir die Grondwethof om ‘n besluit te neem wat die regering moes dwing om die bestaande wet te verander om ‘n meer onafhanklike liggaam daar te stel wat ondersoek moet doen na lede van die polisie.
Die VF Plus steun hierdie wysigingswetsontwerp alhoewel dit steeds nie die ideaal is nie. Met die wysiging sal daar meer parlementêre toesig wees oor Opod. Die parlement se portefeuljekomitee oor polisie sal ook gemoeid wees met die ondersoek van klagtes teen die uitvoerende direkteur van die direktoraat.
Dit is ongelukkig só dat die ANC-regering by verstek die meerderheid in die portefeuljekomitees het. Nogtans is dit ‘n uitstaande kenmerk van die portefeuljekomitee op polisie dat hy werklik optree in die beste belang van die polisie en Suid-Afrika en dat partypolitiek in die komitee nie so sterk na vore tree soos in ander komitees nie.
Om die regverdigheid van ‘n beslissing van die portefeuljekomitee waar die regerende party die meerderheid verder te verskans, is dit nodig dat aanbevelings van dié komitee na die parlement met ‘n tweederde-meerderheid goedgekeur moet word.
Dit is ‘n goeie voorbeeld oor waarom die mense van Suid-Afrika bewus moet wees van die gevare wanneer ‘n regering ‘n meerderheid van twee derdes het. Die beste vir die land sou nogtans wees dat die ANC aanstaande jaar met die algemene verkiesing vervang word as regerende party.
Die wysigingswetsontwerp is steeds nie bo alles verhewe nie aangesien daar reeds ‘n klag is wat ondersoek moet word teen Opod se uitvoerende direkteur, mnr. Robert McBride.
Kontaknommers: 083 627 4397 / 065 801 7216