‘n Parlementere antwoord van die minister van vervoer, dr. Blade Nzimande, bevestig dat geen verdere dagvaardings teen padgebruikers uitgereik gaan word vir die nie-betaling van Gautengse e-tolrekeninge nie.
Die minister sê in antwoord op geskrewe vrae oor die aangeleentheid dat wel voortgegaan sal word met die dagvaardings wat reeds uitgereik is in dié verband en dat wysigings aangebring sal word om verdere uitstaande fondse ook te eis.
"Die VF Plus beskou die inligting aan die een kant as bemoedigend aangesien padgebruikers nie verdere las sal hê van nuwe dagvaardings nie, maar beskou die voortsetting van die regsproses vir die bestaande dagvaardings as ‘n mors van geld en tyd," sê adv Anton Alberts, VF Plus-voorsitter en parlementêre woordvoerder vir vervoer
Die minister het aangedui dat alreeds R 4,6 miljoen tot en met Augustus 2018 bestee is aan regskostes oor boetes
Alberts sê gegewe die feit dat gedagvaarde padgebruikers goeie regsgronde het om verweer aan te teken, sal die hofsake lank en uitgerek wees en net verdere verspilde uitgawes veroorsaak.
Hy sê dit kon eerder aangewend gewees het om bestaande paaie te herstel waar nodig.
In antwoord op dieselfde vraag het die minister die geprojekteerde inkomste en werklike inkomste van die e-tolstelsel per maand sedert die stelsel aangeskakel is, aangedui. Daaruit bly dit duidelik dat die geprojekteerde inkomste meestal nie gerealiseer het nie en op ‘n paar uitsonderings na is die inkomste meestal onder R80 miljoen per maand.
"Hierdie is ook ‘n duidelike aanduiding van die gebrek aan legitimiteit van die stelsel en dat e-tolbetalings nie plaasvind soos verwag nie.
" ‘n Verdere aanduiding van gebrek aan legitimiteit van die stelsel word aangedui deur die syfers gegee oor geaktiveerde en ge-deaktiveerde e-skyfies. Oor die tydperk van Desember 2013 tot Oktober 2018 was ‘n totaal van 2 363 514 e-skyfies geaktiveer, maar ‘n totaal van 1 166 570 ge-deaktiveer wat bykans 50% van e-skyfies uitmaak. Aangesien dit meestal besighede is wat van e-skyfies gebruik maak, is hierdie syfers ‘n aanduiding van hoe selfs besighede die e-tolstelsel boikot.
"Die ANC moet aanvaar dat die e-tolstelsel gefaal het en uiteindelik sal betalings opdroog tot ‘n klein stroompie waarna die stelsel finaal in duie sal stort. Dis net ‘n kwessie van tyd.
"Die ANC se verdediging van die e-tolstelsel gaan die party ook baie seermaak in Gauteng tydens die 2019-verkiesing. Met dié besluit sal die ANC vir seker nie meer ‘n meerderheid in die provinsie behaal nie.
"Die VF Plus sal weldra planne bekend maak om die e-tolstelsel ‘n finale nekslag toe te dien," sê Alberts.