"Die verkiesing van die koalisie, waarvan die VF Plus deel is, se kandidaat as die nuwe burgemeester van die Tshwane-metroraad is 'n oorwinning vir demokrasie en die inwoners van die metro," sê Jaco Mulder, VF Plus-LP en provinsiale leier in Gauteng.
"Die ANC se poging om die metroraad deur magsmisbruik van die provinsiale regering te kaap, het misluk.
"Raadslede in die metroraad kan nou hul pligte hervat om die hoofstad op ‘n herstelpad te lei en dienslewering as eerste prioriteit te stel.
"Die appèlhof het Dinsdag beslis die aanstelling van ‘n administrateur en die ontbinding van die raad is strydig met die konstitusionele demokrasie.
"Die Tshwane-metroraad het oënskynlik van die een krisis na die volgende gesteier kort nadat die Gautengse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake, Lebogang Maile, in Maart die metroraad ontbind en ‘n administrateur vir die stad aangestel.
"Die koalisie-vennote sal dringend aandag gee aan die onwettig goedgekeurde 2020/2021-finansiële begroting met die klem op die reeds ingestelde tariefverhogings. Die VF Plus is ook bekommerd oor eiendomswaardasies wat sedert Julie vanjaar van krag is. Die party word steeds met klagtes van opgeblaasde waardasies oorval."
"Dienslewering deur die Tshwane-metroraad het sedert die administrasie-bewind drasties verswak met administrasie-amptenare wat min gedoen het om belastingbetalers se belange eerste te stel.
"Die metroraad sal sy oorsigrol dringend voorsit met raadslede aan die stuur van artikel-79-oorsigkomitees waar amptenare verantwoordbaar gehou word vir die werksaamhede van die metro.
"Die metroraad sal ook aandag gee aan verskeie belangrike verslae wat agterwee geraak met die ANC- en EFF-raadslede wat voor die administratiewe oorname nie raadsvergaderings wou bywoon nie. Dit sluit die oudit- en prestasiekomitee-verslae in waarin die ouditeur-generaal (OG) se bevindinge uiteengesit word, asook twee forensiese verslae wat die aanstelling en funksionering van diensverskaffers betrek.
"Openbare deelname is vir die koalisie belangrik en daarom kan die metro nie langer sloer met die verkiesing van wykkomitees nie.
"Die VF Plus sal die rol van ‘n stabiele regeervennoot vervul om van die hoofstad ‘n model van plaaslike regering te maak," sê Mulder.