"Die visie vir die Afrika Unie (AU) tot 2063 is hoofsaaklik ekonomiese groei en vooruitgang. Talle Afrika-lande wat hul fokus op die toekoms rig, is wel suksesvol, terwyl lande soos Suid-Afrika, wat die toekoms in wil beweeg met sy fokus op die verlede, ekonomies misluk," sê Corné Mulder, VF Plus-hoofsweep en hoofwoordvoerder van buitelandse betrekkinge.
"Die Afrika Unie (AU), wat voortspruit uit die Organisasie vir Eenheid in Afrika (OAE) wat in 1963 gesig is, het ná vyftig bestaansjare ‘n nuwe visie vir die volgende vyftig jaar tot en met 2063 gestel.
"Waar die eerste vyftig jaar hoofsaaklik is gewy aan die stryd om onafhanklikheid en Afrika se vrymaak van koloniale moondhede, is besef die agenda vir die volgende vyftig jaar sal aangepas moet word na een van ekonomiese ontwikkeling en vooruitgang.
"Die EFF en die ANC laat dit egter klink of hulle steeds in die eerste vyftig jaar se revolusionêre fase tot en met 2013 vasgevang is. Hulle bly aan die verlede vaskleef. Die punt is bereik waar Afrika vorentoe moet kyk, moet ontwikkel en vooruitgaan."
"Die ANC mik selfs daarna om konflik in Afrika teen die jaar 2020 uit te wis. Dit is ‘n edel ideaal maar nie haalbaar nie. Die rede is dat vrede en voorspoed in Afrika afhang van ekonomiese groei. Daarsonder sal enige plan net ‘n droom en mooi woorde op papier wees.
"Die voorwaardes vir ekonomiese groei is geskoolde arbeid, lae belasting, inflasie en rentekoerse, gesonde mededinging in die sakewêreld, ‘n kultuur van spaar, ‘n gemotiveerde werksmag, beleggings, kredietwaardigheid en behoorlike infrastruktuur.
"Dít is wat Afrika nodig het vir ekonomiese groei en ‘n mens kan hieruit duidelik sien waar Suid-Afrika staan om ekonomiese groei te bewerkstellig. Suid-Afrika kan duidelik nie ‘n rol speel in die AU se toekomsstrewe nie aangesien sy eie huis nie orde is nie.
"Suid-Afrika se eie ekonomie en geldsake is haglik. Die toestand van staatsinstellings soos Eskom is ‘n duidelike voorbeeld hiervan."
"Dit lyk nie so in die res van Afrika nie. Baie lande het ‘n gesonde groeikoers ver bo dié van Suid-Afrika. Dit is die lande wat hul energie en visie gerig het op die toekoms. Die ANC-regering wil ongelukkig met sy fokus op die verlede probeer om die toekoms in te gaan. Dit is nie moontlik nie," sê Mulder.