Die VF Plus doen ’n beroep op Eskom en die Oudtshoorn-munisipaliteit om die plaaslike elektrisiteitsinfrastruktuur deeglik te ondersoek en sonder versuim te herstel en te onderhou.
Die jongste kragonderbreking ná skade aan Eskom-infrastruktuur het die kwesbaarheid van die streek se kragvoorsiening en die ernstige gevolge van swak instandhouding duidelik uitgelig.
Die gemeenskap van die groter Oudtshoorngebied kan eenvoudig nie nóg ’n onderbreking soos die afgelope vier dae bekostig nie.
Huishoudings, ondernemings, landbou en toerisme ly groot verliese, wat die plaaslike ekonomie en werksgeleenthede direk bedreig.
Verskeie klagtes uit die gemeenskap wys daarop dat infrastruktuur nie voldoende onderhou word nie. Eskom en die munisipaliteit moet dringend hul verantwoordelikhede nakom, knelpunte identifiseer en ’n duidelike plan vir instandhouding en opgradering daarstel.
Die VF Plus waardeer die tegniese personeel wat tydens die jongste onderbreking onder moeilike omstandighede herstelwerk verrig het.
Dit beklemtoon die noodsaak van voorkomende instandhouding en langtermyn beplanning om ‘n herhaling te voorkom.
Die VF Plus dring daarop aan dat Eskom en die Oudtshoorn-munisipaliteit infrastruktuuronderhoud en vernuwing as ’n prioriteit hanteer.
Betroubare kragtoevoer is onmisbaar vir ’n funksionerende gemeenskap en ’n lewensvatbare plaaslike ekonomie.


