Neels Pretorius, gebore in 1954 op Ellisras (Lephalale), het ’n lewenslange passie vir landbou, taal en gemeenskapsontwikkeling. Hy het Afrika-tale aan RAU studeer en 12 jaar by die SAUK gewerk voordat hy in 1989 na Vaalwater verhuis het. Daar het hy geboer, twee slaghuise bestuur en as veilingsagent gewerk. Sedert 2021 dien hy as voltydse raadslid in die Modimolle Mookgophong-plaaslike munisipaliteit en dien hy op vier portefeuljekomitees. Hy kommunikeer in ses tale en is bekend vir sy organisasie-, bestuurs- en kommunikasievaardighede.