Die brand by die Waltloo-substasie, die skade aan die Njala-invoerstasie en die Tshwane-metro se besluit om lasvermindering toe te pas, is nie ’n toevallige tegniese voorval nie. Dit is die voorspelbare gevolg van jare se verwaarlosing, ’n tekort aan vakmanne en ’n bestuur wat waarskuwings ignoreer totdat die ligte uitgaan.
Njala is ’n kernpunt vir Tshwane se grootmaatkrag. Wanneer transformator-kapasiteit daar verlore gaan, moet die metro elektrisiteit tussen wyke rantsoeneer om oorlading te voorkom. Dit is nie beplanning nie – dit is krisisbestuur. Die instel van lasvermindering en geteikende beurtkrag bevestig dat die hoofstad se kragnetwerk nie meer stabiel is nie.
Die VF Plus het reeds in Mei gewaarsku dat die netwerk stelselmatig ineenstort.
Tshwane bedryf 55 substasies van 132 kV, maar het destyds slegs 26 gekwalifiseerde tegnici gehad wat op die hoëspanningsnetwerk mag werk – minder as een per twee substasies. Die voltooiingskoers vir kragfoute het tot 37% gedaal, met meer as 12 000 versoeke wat langer as 90 dae uitstaande was.
’n Amptelike verslag van 1 Junie 2026 het self gewaarsku dat die netwerk ’n hoë risiko loop vir wydverspreide onderbrekings en swartkolle indien ’n primêre transformator faal. Daardie waarskuwing het nou werklikheid geword.
Die Waltloo-brand het reeds ’n domino-effek: Talle primêre substasies – onder meer Waltloo, Wingate, Heatherley, Mooikloof, Wapadrand, Scientia, Highlands, Willows, Lynnwood, Villieria, Koedoespoort, Pumulani, Pyramid en dele van Mamelodi – is in die donker gedompel.
Die VF Plus eis onmiddellike optrede:
- Onafhanklike ingenieursassessering: ’n Volledige, deursigtige oudit van die netwerk – nie ’n interne verslag wat weggesteek kan word nie.
- Privaat kundigheid: Eksterne hoëspanningspesialiste moet dadelik ingespan word om foute te herstel en veilige terugvoeding te beplan.
- Vakmanne bo bestuurders: Aanstellings moet op meriete geskied. Minder “base”, meer elektrisiëns wat substasies kan herstel.
- Gemeenskappe en privaat sektor: Waar die metro faal, moet burgerlike organisasies en ondernemings deel van die oplossing wees. Sonkrag en mikronetwerke moet aangemoedig word.
- Eerlike kommunikasie: Inwoners verdien deurlopende, uur-vir-uur terugvoer oor herstelplanne en lasverminderingskedules.
Op 4 November het kiesers die geleentheid om te besluit of Pretoria ’n stad met werkende substasies, bevoegde tegnici en waarde vir belastinggeld gaan wees. Die tyd vir verandering is nou.


