Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

DIT IS TYD! DIT IS TYD! DIT IS TYD! DIT IS TYD! DIT IS TYD! DIT IS TYD! DIT IS TYD! DIT IS TYD! DIT IS TYD! DIT IS TYD! DIT IS TYD! DIT IS TYD! DIT IS TYD! DIT IS TYD! DIT IS TYD! DIT IS TYD! DIT IS TYD! DIT IS TYD! DIT IS TYD! DIT IS TYD! DIT IS TYD! DIT IS TYD! DIT IS TYD!

MUNISIPALE VERKIESINGSMANIFES 2026

LEIER SE BOODSKAP

Met die 2026-manifes trek die VF Plus ’n streep in die sand. Suid-Afrika het genoeg gehad.

Oor die afgelope dekades het verkeerde prioriteite en beleidsbesluite, onkundige amptenare, korrupsie en ’n gebrek aan aanspreeklikheid ons munisipaliteite op hul knieë gedwing. Inwoners, en veral getroue belastingbetalers, betaal die prys vir plaaslike owerhede se mislukkings.

Munisipaliteite is die boustene van ’n welvarende land. As munisipaliteite misluk, misluk Suid-Afrika.

Inwoners moet weer seggenskap oor hul gemeenskappe kry Infrastruktuur moet herstel en uitgebrei word. Inwoners verdien bekostigbare munisipale tariewe. Belastinggeld moet vir dienslewering aangewend word – nie om amptenare te onderhou wat nie hul werk kan of wil doen nie.

Wie gaan dit doen?

Die VF Plus veg onbeskaamd vir meer magte vir gemeenskappe en vir plaaslike ekonomieë wat deur werkskepping groei. Plaaslike regering moet plaaslik wees.

Die party se manifes is ’n praktiese tienpuntplan om munisipaliteite weer vir ons te laat werk.

Die VF Plus het ’n plan. Dit is ons tyd om die plan te laat werk.

Maak op 4 November die VF Plus sterker in jou munisipaliteit.

30 jaar van agteruitgang en buitensporige salarisse

Plaaslike regering in Suid-Afrika is in totale chaos gedompel. Dienslewering faal en meeste munisipaliteite is feitlik bankrot en onvolhoubaar. In die minderheid munisipaliteite waar hierdie verval nie ooglopend is nie, is dit ’n feit dat dienslewering en infrastruktuur wel stelselmatig agteruitgaan.

Dorpe is die afgelope 30 jaar saamgevoeg om groot munisipaliteite of metrorade te vorm, maar al wat verbeter het, is die vergoeding van raadslede en senior amptenare.

Dit is tyd

Nou Die tyd is nou om ons dorpe en stede reg te ruk. Die VF Plus het ’n werkbare plan om munisipaliteite te herstel en ’n nuwe bedeling van verantwoordbaarheid te vestig.

Die VF Plus trek ’n streep en sê, “Genoeg is genoeg – dit is tyd vir ons regrukplan!”

Dit is ons tyd

Die VF Plus neem aan hierdie verkiesing deel onder die tema, “Dit is ons tyd”. Elke kieser moet besef dat dit met hierdie verkiesing sy of haar tyd is om beheer te neem, die verval te stop en te stem vir die nodige verbetering.

Die VF Plus het ’n regrukplan vir ons plaaslike regerings. Hierdie manifes bevat ’n bondige agtergrond ten opsigte van munisipale kwessies en probleme, die oorsake van hierdie probleme en bied ’n tienpunt-plan aan om hierdie probleme op te los.

Werklike verandering en verbetering

Om slegs die regerende party van ’n munisipaliteit te verander gaan nie die dieperliggende oorsake vir die probleme oplos nie. Dit is beleidsrigtings en die model van plaaslike regering wat moet verander.

Suid-Afrikaners verdien ’n nuwe bedeling tot voordeel van alle gemeenskappe.

Die ANC soek ’n sondebok vir alles wat verkeerd is in Suid-Afrika, vir al sy mislukking en vir die totale verval van dorpe en stede. Hy gebruik wittes as die sondebok en probeer sy kiesers behou deur wittes en apartheid die skuld vir die krisisse te gee. Rassepolarisasie word vir korttermyn politieke gewin gebruik.

Die oorsake van die verval lê by die huidige beleid wat ’n gunstige omgewing vir wanbestuur, korrupsie en bedrog geskep het.

Daar is hoop – groen gaan dit doen

Die mense van Suid-Afrika kan verenig rondom ’n nuwe visie vir die toekoms. ’n Visie waar jy self weer beheer neem oor jou en jou nageslag se toekoms gegrond op die waardes van integriteit, eerlikheid, hardwerkendheid, wedersydse respek en naasteliefde.

Die VF Plus se 2026-manifes vervat ’n regrukplan wat hoop bied om ’n beter toekoms te bou. Dit is geskoei op die VF Plus se visie vir jou dorp of stad.

Die VF Plus se visie vir jou dorp of stad:

’n Plek waar water loop; ligte brand; rioolwerke funksioneer; strate skoon is; slaggate herstel word; kundiges aangestel word; belastingbetalers waarde vir geld kry; ondernemings kan groei; gemeenskappe veilig is en inwoners ’n werklike sê het oor hul eie omgewing.

Die VF Plus se visie kan verwesenlik word deur die grondliggende beginsels van hierdie manifes. Dit is die VF Plus se aanbod aan kiesers.

Die VF Plus se 2026-aanbod aan kiesers:

  • Jou gemeenskap eerste: Besluitneming en mag nader aan die inwoners.
  • Meriete en kundigheid: Die beste mense moet aangestel word om die werk te doen
  • Jou geld moet vir jou werk: Billike belastings en tariewe; waarde vir geld en geld terug na die gemeenskappe.
  • Vryheid om te bou en te groei: Beskerm eiendomsreg, ondernemings, die landousektor en privaat inisiatief.
  • Stabiliteit en verantwoordbaarheid: Beginselvaste koalisies wat regeer om dienste te herstel – nie om poste te bekom nie.

KERNPROBLEME EN OORSAKE

Infrastruktuur verval

Watertekorte, vuil water, slaggate in paaie, straatligte wat buite werking is of heeldag brand, verkeersligte wat buite werking is en riool wat in strate loop word die alledaagse verskynsel in Suid-Afrikaanse munisipaliteite. Daar waar dit nie die norm is nie, is alle aanduidings dat hierdie verval wel besig is om stelselmatig plaas te vind.

Suid-Afrika is ’n waterskaars land wat gebuk gaan onder droogtes. Hierdie natuurlike fenomeen is egter nie alleen verantwoordelik vir die watertekort nie.

Infrastruktuur soos pyplyne, damme, watersuiweringsaanlegte en waterpompe wat nie in stand gehou word nie, dra by tot die kernprobleem in hierdie verband. ’n Enorme hoeveelheid water gaan verlore weens waterlekkasies en gebrekkige infrastruktuur. Kundigheid in verband met waterbestuur is afwesig.

Paaie wat nuut gebou word, verval na ’n paar jaar as gevolg van onbevoegde kontrakteurs en/of geen roetine instandhouding nie.

Tenders word ten opsigte van infrastruktuurprojekte toegeken aan maatskappye wat in baie gevalle die regering uitbuit en substandaard werk lewer. Hierdie maatskappye se werk word nie gemonitor vir waarde vir geld nie. Van die kontrakteurs word vooruit betaal, maar voltooi nie die werk nie. In ander gevalle word maatskappye nie betaal nie wat lei tot onvoltooide infrastruktuurprojekte.

Hierdie maatskappye word op grond van swart ekonomiese bemagtigingskriteria aangestel en waarde vir geld, vermoë om die projek uit te voer en bewese ervaring word nie in ag geneem nie.

Beskikbare fondse word verkeerd aangewend weens ’n tekort aan kundigheid en infrastruktuurtoekennings wat munisipaliteite van die nasionale fiskus ontvang, word oor die algemeen onderbestee.

Daarom is daar ’n tekort aan instandhouding en ’n algemene verval van infrastruktuur. Die verpligte jaarlikse besteding van 8% van die boekwaarde van eiendom, aanleg en toerusting aan instandhouding, word nie nagekom nie.

Daar is ’n algehele tekort aan ingenieurs op munisipale vlak wat lei tot swak beplanning, monitering, implementering en uitvoering van infrastruktuurprojekte. Dit is grootliks as gevolg van regstellende aksie wat sodanig toegepas word dat poste slegs gevul word indien ’n kandidaat van die voorkeurras aansoek doen, andersins word die pos vakant gelaat.

Swak dienslewering

Die meeste munisipaliteite kan nie voldoende dienste aan die totale diensgebied van die betrokke munisipaliteit lewer nie. Vullisverwydering, riolering, water- en elektrisiteitsvoorsiening en korrekte munisipale rekeninge is ontoereikend.

Munisipaliteite se diensgebiede is onrealisties groot. In 1994 was daar 1262 plaaslike munisipaliteite, teenoor die 213 (plaaslike en metro’s) wat daar tans is.

Die funksie van dienslewering is verkeerdelik gesentraliseer. Dit het tot gevolg dat die regering ver van die gemeenskappe is en dienslewering nie voldoende kan geskied nie.

Daar is ook ’n tekort aan toegewyde en bevoegde munisipale amptenare. Regstellende aksie het tot lae moraal, swak toewyding, vakatures en onbevoegdheid gelei.

Daar is te veel senior amptenare in die meeste munisipaliteite. So ook te veel amptenary in politieke kantore wat nie werklik tot dienslewering bydra nie. Dit terwyl daar ’n algemene tekort aan vakmanne soos elektrisiëns is wat direk tot dienslewering kan bydra.

Munisipale vakbonde word te veel mag toegelaat om onbillike eise te stel en gereeld stakings te reël. Die gereelde stakings van munisipale werkers dra by tot die swak dienslewering.

Voorts lei die vandalisme en diefstal van munisipale eiendom ook tot ontoereikende dienslewering en die swak finansiële toestand van munisipaliteite. Dit is grootliks as gevolg van swak sekuriteit en wetstoepassing.

Vernietiging van die omgewing

Suid-Afrika het asemrowende natuurskoon. Ons natuurbronne en omgewing word egter vernietig deur onbevoegde plaaslike regerings met verkeerde prioriteite.

Ons dorpe en stede is vuil, stortingsterreine ontwettig, riool loop in riviere en die see en munisipale verordeninge wat veronderstel is om besoedeling te voorkom, bestaan óf nie óf word nie geïmplementeer nie.

Vervalle infrastruktuur en ontoereikende rioolsuiweringsaanlegte is verantwoordelik vir hierdie landwye krisis.

Vullisverwydering vind in baie stede en dorpe vir maande nie plaas nie. Herwinningsprojekte blyk in baie gevalle oëverblindery te wees waar veral plastiek eerder in ons oseane beland as wat dit herwin word.

Finansiële tekorte

Suid-Afrika beleef geweldige hoë werkloosheid en ontoereikende ekonomiese groei. Hierdie krisis lei tot krimpende staatsinkomste terwyl die behoeftes en uitgawes meer word.

Munisipaliteite se billike aandeel en voorwaardelike toekennings van die nasionale fiskus word dus ook minder in verhouding met die behoeftes aan infrastruktuurontwikkeling en dienslewering.

Munisipaliteite sien die buitensporige verhoging van eiendomsbelasting en tariewe as die oplossing vir finansiële tekorte. Jaarliks word eiendomsbelasting en tariewe oor die algemeen met meer as inflasie verhoog en vreemde nuwe heffings word ingestel om te poog om inkomstebronne aan te vul. Dit het die teenoorgestelde gevolg aangesien hierdie verhogings en buitensporige heffings tot ’n groter verarming van inwoners lei en meer nie-betalers skep wat tot nadeel van munisipaliteite is. Klein- tot medium-sakeondernemings se deure sluit weens hierdie onbekostigbare verhogings wat tot werkloosheid en verdere verarming van die munisipaliteit in geheel lei.

Aangesien munisipaliteite se eie inkomstebronne dan ook verminder weens inwoners wat meer verarm en sake-ondernemings wat hul deure sluit, beleef munisipaliteite ’n ernstige finansiële krisis. Veral landelike munisipaliteite ontvolk omdat nywerhede en fabrieke sluit weens swak basiese dienslewering.

’n Bose kringloop vorm waar munisipaliteite ontoereikende dienste lewer en tariewe verhoog wat tot minder ontwikkeling en groei van die privaat sektor lei. Dit lei tot ’n verarmde bevolking en werkloosheid wat die inkomstestroom van munisipaliteite verder verminder en tot nog minder basiese dienste lei.

Onderbesteding van voorwaardelike toekennings vir infrastruktuurontwikkeling vind plaas en in ander gevalle word voorwaardelike toekennings vir salarisse aangewend en nie vir infrastruktuurinstandhouding of -ontwikkeling nie.

Die oorsaak van die swak finansiële toestand waarin munisipaliteite verkeer, is jarelange finansiële wanbestuur, korrupsie, selfverryking, vermorsing en verkeerde prioriteite. Daar is ’n algehele tekort aan fiskale dissipline op plaaslike regeringsvlak – buitensporige salarisse word betaal en luukshede vir burgemeesters, munisipale bestuurders en ander is aan die orde van die dag.

Die vergoeding van amptenare het oor die afgelope dekade buitensporig verhoog. Daar was ’n tekort aan oorsig en die politieke wil om salarisse te bekamp. Dit het daartoe gelei dat munisipaliteite nie genoeg fondse beskikbaar het in hul bedryfsbegrotings nie en daarom bestee hulle kapitaalbegrotings en voorwaardelike toekennings om salarisse te betaal. Baie van hierdie senior amptenare wat buitensporige salarisse verdien, is nie kundiges of persone wat direk tot dienslewering bydra nie, maar eerder amptenare in politieke kantore wat ondersteuning aan politici bied.

Weens die enorme werkloosheidkrisis en armoede in Suid-Afrika is daar geweldige druk op munisipaliteite as gevolg van inwoners wat nie vir hul water, sanitasie, vullisverwydering en elektrisiteitsvoorsiening kan betaal nie. Munisipaliteite het egter gefaal om armlastigheidsregisters volledig op te dateer. Dit het daartoe gelei dat baie inwoners wat volgens hul inkomstevlak as armlastig beskou moes word, en dus gratis dienste moes ontvang, nie as sodanig op die register aangebring is nie. Hierdie inwoners was verkeerdelik vir dekades as betalende kliënte wat rekeninge ontvang het, beskou. Dit het tot ’n geweldige hoë hoeveelheid uitstaande en oninbare debiteure gelei. Aan die anderkant is sommige inwoners op die armlastigheidsregister toegelaat wat in werklikheid volgens hul inkomstevlak nie daarvoor kwalifiseer nie.

Die gevolg van hierdie finansiële toestand is munisipaliteite wat nie hul krediteure soos Eskom en waterrade kan betaal nie, nie effektief dienste kan lewer nie en nie infrastruktuur in stand kan hou nie.

Wanbestuur

In baie gevalle is die munisipale bestuurders, hoof finansiële beamptes en ander senior amptenare nie op grond van meriete aangestel nie en beskik hulle nie oor die nodige kundigheid, ervaring en vaardighede nie.

Regstellende aksie-aanstellings het gelei tot die klemverskuiwing vanaf meriete na ander gronde, soos velkleur, politieke affiliasie en politieke partyfaksie. Hierdie aanstellings, kaderontplooiing en ontoereikende oorsig deur munisipale rade het tot erge wanbestuur gelei.

Swak leierskap, insluitend wanfunksionele rade, oorsigkomitees en bestuurstrukture, dra by tot swak fiskale dissipline en finansiële wanbestuur. Daar is geweldige onstabiliteit in munisipaliteite se leierskap, beide polities en administratief.

Die groot hoeveelheid onreëlmatige, vrugtelose en verkwiste en ongemagtigde uitgawes weens wanbestuur dra grootliks tot die finansiële- en diensleweringskrisis by.

Die mislukking van bestuur lei tot die algehele mislukking van munisipaliteite. Besluite word in baie gevalle geneem op grond van politieke redes en nie in belang van goeie bestuur nie. Daarom is daar min tot geen gevolge vir amptenare wat wetgewing oortree nie. Daar is ook nie gevolge vir raadslede wat onwettige praktyke goedkeur nie.

BELEIDSTANDPUNTE EN OPLOSSINGS

Tyd dat gemeenskappe besluite oor hulself neem

Die sleutelpunt van die VF Plus se beleid is dat gemeenskappe die bousteen van plaaslike regering is. Besluite moet so na as moontlik aan die mense geneem word en gemeenskappe moet groter beheer hê oor hul belastings, dienste, veiligheid, ontwikkeling en erfenis.

Dit beteken dat die stelsel van plaaslike regering hersien moet word. Die basiese regeringsvlak moet die plaaslike gemeenskap wees.

Die VF Plus glo aan die beginsel van subsidiariteit (om mag af te wentel). Dit beteken dat alle gesag op die laagste moontlike vlak uitgeoefen word – selfbeskikking.

Die VF Plus sal ’n bedeling wat volhoubare en selfstandige gemeenskappe moontlik maak, bevorder. Sulke plaaslike gemeenskappe moet as boustene van ’n breër samelewing in staat gestel word om na hul eie welstand om te sien.

Die beginsel van regering so na as moontlik aan die gemeenskappe self, moet bevorder word. Die wêreldtendens is dat besluite en dienste so na as moontlik aan die gemeenskap wat daardeur geraak word, geneem word. Switserland is ’n goeie voorbeeld van die sukses hiervan. Switserland het sowat 8.5 miljoen inwoners en ’n oppervlakte van 41 285 km2 wat deur 2 212 munisipale rade bedien word. Suid-Afrika met nagenoeg 64 miljoen inwoners en ’n oppervlakte van 1 219 090 km2 het slegs 213 munisipaliteite.

Munisipale gebiede is so groot dat dit nie meer regering op voetsoolvlak is nie. Boonop gebruik die ANC munisipaliteite as ’n kanaal vir die ontplooiing van kaders.

Plaaslike munisipaliteite moet slegs een dorp omvat. Daar is geen getuienis dat die stelsel van kant-tot-wal-munisipaliteite sedert 2000 voordelig is nie, behalwe vir die klein elite van raadslede en amptenare.

Daarom behoort die bestaande stelsel van megastede en plaaslike munisipaliteite wat uit verskeie dorpe bestaan, verander te word om plaaslike regering terug te bring na plaaslike gemeenskappe. Gevolglik moet belasting wat uit hierdie gemeenskappe betaal word, ook teruggeploeg word in die betrokke gemeenskap.

Alhoewel die besluite oor die verandering van dié stelsel nie op plaaslike vlak gesetel is nie, sal die VF Plus die afwenteling van besluitneming en mag soveel as moontlik bevorder.

Openbare deelname op grondvlak sal aangemoedig word en daadwerklik in ag geneem word met die wysigings van geïntegreerde ontwikkelingsplanne, ruimtelike ontwikkelings en begrotings.

Dit moet verwelkom en ondersteun word as gemeenskappe self stappe neem om byvoorbeeld hul eie veiligheid te bevorder. Waar ’n munisipaliteit nie die vermoë het om ’n diens behoorlik te lewer nie, moet die gemeenskap, ondernemings en burgerlike organisasies toegelaat word om deel van die oplossing te wees – dit sluit water, elektrisiteit, vullisverwydering, herwinning, sekuriteit en instandhouding in.

Die VF Plus sien diversiteit as ’n bate vir Suid-Afrika. Diversiteit moet daarom op alle vlakke van regering erken en gekoester word. Dit sluit in respek vir alle gemeenskappe se simbole, historiese name en erfenis.

Die VF Plus se deurlopende politieke gevegte oor die onnodige verandering van plek- en straatname, bewys dit.

Die VF Plus sê:

  • Wentel besluitneming en mag af na die gemeenskap.
  • Bevorder ’n ryk gemeenskapslewe waar burgerlike deelname veel dieper as periodieke verkiesings strek en waar gemeenskapslede direk aan regeringsaktiwiteite en -besluitneming deelneem.
  • Belasting en tariewe wat deur ’n betrokke gemeenskap betaal word, moet teruggeploeg word in die betrokke area.
  • Neem die insette en voorstelle verkry vanuit die openbare deelname-prosesse werklik in ag by die oorweging van begrotings, geïntegreerde ontwikkelingsplanne, ens.
  • Bevorder subsidiariteit, onafhanklikheid en selfstandigheid. Bevorder die reg van gemeenskappe om seggenskap oor hul erfenis te hê.
  • Bevorder gelyke regte vir alle groepe en gemeenskappe.
  • Bevorder veeltaligheid.
  • Beskerm erfenis en respekteer diversiteit.
  • Stop die onnodige verandering van plek- en straatname.

Tyd dat jou belastinggeld vir jou werk

Die meeste belastingbetalers is weens die hoë lewenskoste al hoe minder in staat om belastings en tariewe te betaal. Daarom moet dit wat betaal word nie onproduktiewe munisipale uitgawes befonds nie, maar moet elke sent oordeelkundig bestee word.

Die buitensporige salarisse van veral senior amptenary is een van hierdie onproduktiewe uitgawes. In baie gevalle dra hierdie senior amptenare weinig tot konkrete dienslewering by. Daar is ’n heeltemal te groot aantal “base” en te min amptenare, soos vakmanne, wat werklik waarde toevoeg. Daar is ’n tekort aan amptenare wat waterlekkasies kan herstel, elektriese herstelwerk kan doen en slaggate kan regmaak. Daarteenoor is daar te veel politieke ondersteuningspersoneel en oorbodige administratiewe amptenare.

Die VF Plus sal die aantal senior- en middelslagbestuursposte verminder; salarisse hersien en dit in lyn met kundigheid, vaardighede en die waarde van die pos (funksionaliteit) bring; en meer vakmanne aanstel wat tot konkrete dienslewering sal bydra.

Belasting en heffings moet op ‘n sistematiese en geoormerkte wyse hanteer word. Dit beteken dat ’n wesenlike hoeveelheid van belasting en heffings teruggeploeg moet word in die wyke waar die belasting geïn is. Die beginsel van basiese dienste vir almal, om armes ook toegang tot dienste te gee, is belangrik en word erken. Daar moet ’n verspreiding van munisipale inkomste wees om in die behoeftes van alle inwoners te voorsien, maar dit mag nie beteken dat inwoners wat getrou betaal, min tot geen waarde vir hul belasting in hul wyke verkry nie.

Dit is nie regverdig om betalers van diensgelde, wat ’n gereelde en pligsgetroue belasting- en dienstebetalingskultuur ontwikkel het, oor te belas om nie-betalers te subsidieer nie. Die kultuur van nie-betaling moet aangespreek word, aangesien daar baie nie-betalers is wat betaling kan bekostig.

Die billike aandeel wat munisipaliteite ontvang moet aangewend word vir die bedoelde oogmerk om basiese dienste aan armes te lewer. Fiskale dissipline en doelgerigte besteding sal verseker dat dienste aan armes gelewer kan word, opheffing geskied en daar belasting bestee word daar waar dit geïn is.

Dit is nie regverdig dat inwoners getrou betaal vir dienste wat nie gelewer word nie. Munisipaliteite moet belasting, heffings en tariewe verdien en nie slegs opeis nie. Daar moet dus waarde vir belastings en dienstegelde wees.

Gehalte dienslewering en effektiewe regering moet bevorder word deur doeltreffende oorsig om deursigtigheid ten opsigte van besteding te verseker. Dit beteken, onder meer, dat groot salarisse wat aan amptenare betaal word wat nie in staat is om diens te lewer nie, gestaak moet word.

Die VF Plus sê:

  • ’n Wesenlike hoeveelheid van die belastinggeld wat in jou wyk ingesamel word (jou erfbelasting en heffings), moet daar aangewend word. Hoe beter die invorderingskoers van ’n wyk is, hoe meer sal daar op daardie wyk se prioriteite bestee kan word.
  • Besnoei onproduktiewe uitgawes, insluitend oorbodige poste.
  • Minder “base” en meer kundiges en vakmanne wat konkreet tot dienslewering kan bydra.
  • Wend die billike aandeel aan om basiese dienste aan armes te lewer.
  • Gehalte dienslewering en effektiewe regering deur doeltreffende oorsig.

Tyd vir billike belasting en tariewe

Die betaling van belasting en diensgelde is noodsaaklik vir die instandhouding van munisipaliteite en dienslewering. Munisipaliteite moet egter alles in hul vermoë doen om die verhoging van belasting en tariewe te voorkom deur onnodige besteding te besnoei.

Onbillike jaarlikse tarief- en belastingverhogings wat bo inflasie is, skep meer nie-betalers en belemmer die ekonomiese groei van munisipaliteite.

’n Eenvormige belastingstelsel en eenvormige dienstariewe vir dieselfde kategorie verbruikers moet geïmplementeer word. Dit behels gelyke betaling vir gelyke dienste en die daadwerklike uitwis van die kultuur van nie-betaling. Dit sal die beginsel van gratis basiese dienste vir almal, om armes ook toegang tot dienste te gee, makliker implementeerbaar maak.

Akkurate en gereelde diensterekeninge is van belang. Munisipaliteite moet hul rekeningstelsels opgradeer en belê in moderne tegnologie om stelsels effektief te integreer. Selfoontoepassings moet oorweeg word om inwoners in staat te stel om hul rekeninge spoedig te kan nagaan en te kan betaal.

Die lesing van meters moet gemoderniseer word en geskatte lesings moet voorkom word. Dit het praktyk geword dat lesings meer geskat, oftewel beraam word as wat daar werklike meterlesings geld. Die gebruik van peutervrye slimmeters moet geprioritiseer word en daardeur moet onwettige elektrisiteitsverbindings gekeer word. Areameters moet geïnstalleer word om enige verliese te bepaal en dadelik uit te wys wanneer daar kragdiefstal is.

Die onbillike belasting wat op landbougrond gehef word, waar boere minimaal dienste van die munisipaliteit ontvang, moet daadwerklik aangespreek word.

Weglaatbare inkomste, soos handelspermitfooie, moet afstand van gedoen word om nodige verligting aan sake-ondernemings tydens swak ekonomiese omstandighede te bied.

Die eiendomswaardes in bestaande woonbuurte moet beskerm word en ordelike verstedeliking moet sodanig beplan en bestuur word om nie eiendomswaardes negatief te beïnvloed nie.

Die VF Plus sal eiendomsreg beskerm en verseker dat munisipale beleid, ruimtelike ontwikkeling, grondgebruik en belastings die regmatige belange van eiendomseienaars respekteer en eiendomswaardes beskerm.

Die VF Plus sê:

  • ’n Eenvormige belastingstelsel en dienstariewe.
  • Voorkom verhogings van belastings en tariewe deur onnodige besteding te besnoei.
  • Geen verhogings van belastings en tariewe bo inflasie nie.
  • Akkurate en gereelde diensterekeninge.
  • Gemoderniseerde meterlesings, slimmeters en areameters.
  • Stop onwettige elektrisiteitsverbindings en kragdiefstal.
  • Spreek die onbillike belasting wat op landbougrond gehef word aan.
  • Beskerm eiendomsreg en respekteer eiendomseienaars se regmatige belange.
  • Ordelike verstedeliking met inagneming van eiendomswaardes van bestaande woonbuurtes.

Tyd om infrastruktuur te herstel en te bou

Die voorwaardelike toekennings wat uit die nasionale fiskus ontvang word en geoormerk is vir die ontwikkeling en instandhouding van infrastruktuur moet ten volle bestee word vir daardie doel. Daar mag nie onderbesteding wees nie.

Fondse en voorwaardelike toekennings moet op kritieke infrastruktuur – riolering, water, elektrisiteit en paaie – bestee word, alvorens dit op die bou van byvoorbeeld sportstadions bestee word.

Om te verseker dat infrastruktuur nie verval nie moet ten minste 8% van die boekwaarde van eiendom, aanleg en toerusting jaarliks aan instandhouding bestee word.

Infrastruktuurprojekte en -instandhouding moet egter deeglik beplan word. Die aanstelling van kundiges, soos ingenieurs en vakmanne moet geprioritiseer word. Daar moet effektiewe oorsig van infrastruktuurprojekte geskied en kontrakteurs moet oordeelkundig aangestel word volgens kundigheid en die beste waarde vir geld. Kontrakteurs se vordering met projekte moet deurgangs gemonitor word.

Die opgradering en instandhouding van rioolaanlegte moet prioriteit geniet. Infrastruktuurtoekennings moet aangewend word om bestaande rioolinfrastruktuur op te gradeer. So ook moet waterinfrastruktuur prioriteit geniet en moet lekkasies deur moderne tegnologie opgespoor word sodat herstelwerk proaktief geskied om grootskaalse wateronderbrekings te voorkom. Dit is belangrik om eers bestaande waterinfrastruktuur op te gradeer alvorens daar in nuwe infrastruktuur belê word.

Die VF Plus sê:

  • Bestee infrastruktuurtoekennings (voorwaardelike toekennings) ten volle.
  • Bestee ten minste 8% van die boekwaarde van eiendom, aanleg en toerusting jaarliks aan instandhouding.
  • Beplan infrastruktuurprojekte en instandhouding deeglik.
  • Stel kundiges en vakmanne aan.

Tyd vir finansiële verantwoordbaarheid

Munisipaliteite moet belê in voorkomende kontrolemeganismes om aanspreeklikheid te verseker en finansiële verliese, bedrog en korrupsie, wanbestuur van openbare hulpbronne en diensleweringstekortkominge te verhinder.

Om finansiële bestuur te verbeter moet die monitering, hersiening en oorsig van finansiële transaksies aansienlik verbeter. Daar is ’n tekort aan voldoende rekordhouding van transaksies wat lei tot ’n tekort aan deursigtigheid.

Daar is ’n arsenaal van plaaslike regeringswetgewing, regulasies en gedragskodes wat die optrede van munisipale administrateurs en raadslede bestuur. Raadslede en amptenare oortree egter hierdie bepalings en word nie verantwoordbaar gehou nie. Dit moet verander. Daar moet voldoening aan wetgewing en regulasies wees.

Dit is belangrik dat munisipaliteite realisties begroot en beplan. Hieraan moet indringend aandag gegee word aangesien die meeste munisipaliteite se begrotings of onbefonds of onrealisties is. Die tekort aan goeie beplanning skep die tendens waar daar slegs krisisbestuur is.

Die invordering van debiteure moet geprioritiseer word. Daar is egter ’n noodsaak vir meganismes om akkurate diensterekeninge te verseker.

Die professionalisering van die bestuur van munisipaliteite is ’n noodsaak en daarom moet kundige amptenare met die nodige bevoegdhede en kwalifikasies aangestel word. Terwyl munisipale bestuurders, hoof finansiële beamptes en senior bestuur nie bekwaam is om die werk waarvoor hul aangestel is te doen nie, sal finansiële wanbestuur hoogty vier.

Dit is belangrik dat munisipale openbare rekeningekomitees funksioneer en die nodige oorsig en ondersoeke doen. Dit help egter nie dat alle onreëlmatige en vrugtelose uitgawes doodeenvoudig jaarliks gekondoneer word en straffeloos verbygaan nie. Daar moet gevolge wees vir amptenare wat verantwoordelik is vir verkwisting van openbare fondse.

Alle kontrakte wat die munisipale raad met diensverskaffers sluit, moet beskikbaar wees vir insae deur die publiek.

Uitstaande skuld van staatsdepartemente aan munisipaliteite moet daadwerklik ingevorder word.

Daar moet stabiliteit in politieke en administratiewe leierskap wees. Munisipale rade moet funksioneel wees en effektief oorsig bied.

Die VF Plus sê:

  • Kontrolemeganismes moet in plek gestel word om aanspreeklikheid te verseker en finansiële wanbestuur te voorkom.
  • Die monitering, hersiening en oorsig van finansiële transaksies en besluite moet verbeter.
  • Munisipale bestuur moet geprofessionaliseer word en kundige amptenare moet op grond van verdienste aangestel word.
  • Munisipale rade en komitees moet effektiewe oorsig uitoefen, ondersoeke doen en gevolge vir oortredings implementeer.
  • Munisipale openbare rekeninge komitees moet funksioneer en deeglike ondersoek na onreëlmatige, vrugtelose en verkwiste uitgawes moet gedoen word.
  • Onreëlmatighede, verkwisting en wanbestuur mag nie straffeloos gelaat word nie.
  • Daar moet stabiele politieke en administratiewe leierskap wees.
  • Onwettige kontrakte met diensverskaffers moet beëindig word.
  • Die tenderproses by munisipaliteite moet hersien word om deursigtigheid te bewerkstellig.
  • Alleenlik kontrakteurs en konsultante wat oor die kundigheid en bewese rekord beskik om die werk te kan doen, moet aangestel word.
  • Verhaal fondse wat weens korrupsie, bedrog en onreëlmatige kontrakte verlore is.
  • Vorder uitstaande skuld van staatsdepartemente in en tree daadwerklik op.
  • Raadslede moet verantwoordelik gehou word indien hulle onwettige praktyke, soos onbefondse begrotings, goedkeur.

Tyd vir ’n gesonde en veilige omgewing

Die omgewing moet beskerm word deur effektiewe polisiëring met betrekking tot besoedeling en die oortreding van toepaslike wetgewing.

Tans is munisipaliteite egter self verantwoordelik vir die mees drastiese besoedeling van onder meer waterbronne.

Waar ’n munisipaliteit verantwoordelik is vir besoedeling en die oortreding van omgewingswetgewing moet die rekenpligtige amptenaar strafregtelik vervolg word.

Praktiese oplossings moet ondersoek word om rommelbesoedeling van riviere, damme en die see te voorkom. Dreineringsnette is een voorbeeld. Munisipaliteite moet nette by stormwaterdreineringspype aanbring om so veral te voorkom dat plastiekrommel in waterbronne beland.

Besoedeling van waterbronne as gevolg van wanfunksionele watersuiweringsaanlegte mag nie geduld word nie. Die instandhouding van hierdie kritieke infrastruktuur moet geprioritiseer word en gereelde toetsing van waterbronne vir enige moontlike rioolbesoedeling moet deur munisipaliteite self gedoen word. Sodoende kan daar onmiddellik opgetree word en nodige herstelwerk gedoen word.

Die verlies aan water moet beperk word deur die modernisering van waterbestuur, investering in bestaande infrastruktuur en die identifisering van waterlekkasies. Dit beteken om eerstens goeie rekord te hou van wateraankope, -verspreiding en -verkope. Sodoende kan die hoeveelheid nie-inkomstegenerende water akkuraat gerapporteer word en waterverlies bepaal word.

Die opgradering van stortingsterreine is noodsaaklik. Daar moet aandag gegee word aan die beveiliging van hierdie terreine en die nakoming van die toepaslike wetgewing. Elke munisipaliteit moet ’n kultuur van herwinning skep en projekte van stapel stuur wat werkloses betrek by geordende herwinning van rommel tot voordeel van die gemeenskap en omgewing. Hierdie projekte moet die werklike herwinning van toepaslike materiaal behels. Plastiek mag nie in ons oseane opeindig nie.

Munisipaliteite moet ’n gunstige omgewing skep vir inwoners om na hernubare energiebronne om te skakel. Dit moet onder meer kortings op belasting vir inwoners wat na hernubare elektrisiteitvoorsiening oorskakel, behels.

Munisipaliteite moet die privaat opwekking van elektrisiteit aanmoedig en self bekostigbare en volhoubare alternatiewe elektrisiteitsopwekkingsprojekte loods.

Alhoewel ontwikkeling en stads- en dorpsuitbreiding belangrik vir vooruitgang is, moet parke en “groen areas” soveel as moontlik behoue bly en deel van ruimtelike ontwikkelingsplanne vorm. Die plant van bome en ander plante op sypaadjies en verkeerseilande is belangrik om ’n volhoubare omgewing vir die toekoms te skep en die effek van lugbesoedeling teen te werk.

Distriksmunisipaliteite moet rampbestuur prioritiseer en toepaslike toelae bestee om funksionerende brandbestryding in plaaslike munisipaliteite te verseker. Brandbestrydingstoerusting en -voertuie moet in alle dorpe van ’n munisipaliteit beskikbaar wees. Brandbestrydingstoerusting spesifiek aangepas om veldbrande in landelike gebiede te bestry, moet beskikbaar wees.

Die enigste manier om misdaad effektief hok te slaan is om te verseker dat die verskillende rolspelers, soos die polisie, burgerregte-organisasies, gemeenskapspolisiëringsforums, buurtwagte, landelike beveiliging, metro- of munisipale polisie en private sekuriteitfirmas saamwerk en nie in isolasie nie.

Die VF Plus sal die rol speel om samewerking te fasiliteer en te verseker. Dit is ook belangrik dat die gemeenskap betrek word by misdaadvoorkoming. Die gemeenskap moet aangemoedig word om misdaad te rapporteer.

Munisipale wetstoepassing skiet tans ver tekort. Dit dra by tot ’n wettelose samelewing. Dit is belangrik dat munisipale verordeninge (bywette) konsekwent geïmplementeer en gepolisieër word. Daar moet egter eerstens ’n proses onderneem word om hierdie verordeninge te hersien en te verseker dat dit in lyn is met die huidige realiteite en die moderne samelewing.

’n Veilige omgewing moet geskep word waar die omstandighede wat gunstig vir misdadigers is, voorkom word. Dit sluit in werkende straatligte, sekuriteitskameras en die voorkoming van verlate munisipale eiendom.

Munisipale eiendom moet teen vandalisme beskerm word. Tans word daar miljoene rande bestee aan sekuriteitskontrakteurs om munisipale geboue en ander eiendom te beskerm. Hierdie kontrakte moet vir effektiwiteit en waarde vir geld hersien word. Sekuriteitskameras moet ook eerder aangewend word om munisipale bates te bewaak.

Die VF Plus sê:

  • Verseker die nakoming van munisipaliteite aan toepaslike omgewingswetgewing.
  • Bestee infrastruktuurtoekennings om rioolaanlegte en -infrastruktuur op te gradeer en in stand te hou.
  • Implementeer gemoderniseerde waterbestuur waar rekordhouding akkuraat is en waterlekkasies opgespoor en herstel word.
  • Benader die nasporing van waterverliese sistematies.
  • Voorkom rommelbesoedeling van waterbronne met dreineringsnette.
  • Bevorder ’n skoon omgewing deur skoonmaakprojekte en gemeenskapsbetrokkenheid.
  • Bewerkstellig funksionerende vullisverwydering en wettige stortingstereine met herwinningsprojekte.
  • Implementeer aansporingskortings vir die gebruik van alternatiewe energiebronne.
  • Tree strafregtelik op teen rekenpligtige amptenare wat omgewingswetgewing oortree.
  • Effektiewe polisiëring van besoedeling en die oortreding van toepaslike wetgewing.
  • Effektiewe rampbestuur waar brandbestryding en -voorkoming geprioritiseer word.
  • Behoud en ontwikkeling van parke en groen areas.
  • Verseker samewerking tussen verskillende rolspelers om misdaad te voorkom en misdadigers aan te keer.
  • Bevorder ’n veilige omgewing met kring-televisiekameras en straatligte wat werk.
  • Bekamp verlate en leë munisipale geboue.
  • Bevorder effektiewe wetstoepassing en hersien verouderde munisipale verordeninge.

Tyd vir werkskepping en ekonomiese ontwikkeling

Werkloosheid is ’n geweldige krisis in Suid-Afrika. Die groot hoeveelheid werkloosheid lei tot ’n toename in verstedeliking, meer afhanklikheid van gratis dienste en ʼn totale verarming van munisipaliteite.

Werkloosheid moet daadwerklik aangespreek word. Geen regering kan werk volhoubaar skep nie. Daarom is die VF Plus oortuig daarvan dat werkloosheid slegs oorkom kan word indien ’n gunstige omgewing vir werkskepping en beleggings bewerkstellig word.

Ekonomiese bemagtiging in Suid-Afrika behoort nie te fokus op die verryking van enkele individue nie, maar eerder op die werklike bemagtiging van hele gemeenskappe. Aangesien die VF Plus glo dat velkleur nie gebruik kan word as ’n veralgemeende aanduiding van minderbevoorregting nie, moet dit nie as ’n voorwaarde vir bemagtiging geld nie. Sosio-ekonomiese omstandighede, soos armoede, werkloosheid en ’n gebrek aan toegang tot gehalte onderwys moet eerder as die grondslag vir bemagtiging gebruik word.

Armoede is ’n nasionale probleem wat ’n baie groot gedeelte van die samelewing vanuit alle gemeenskappe raak. Armoedebekamping in gemeenskapsverband waar die gemeenskap self inisiatief neem is deur die jare beproef as die mees effektiewe vorm van armoedeverligting. Daarom sal die VF Plus hom daarvoor beywer om gemeenskapsgegronde, maatskaplike diens te bevorder.

Groei en ontwikkeling is die enigste volhoubare bemagtigingsmetode. Om ekonomiese groei te bewerkstellig moet munisipaliteite ’n gunstige omgewing skep deur betroubare dienslewering, infrastruktuurontwikkeling en -instandhouding en billike belastings en tariewe.

Om ’n plaaslike ekonomie te ontwikkel, moet daar vertroue in die munisipale bestuur en raad wees. Vertroue skep beleggingsekerheid by die privaat sektor om te belê en uit te brei. Vertroue word ingeboesem deur deursigtige en verantwoordelike bestuur waar openbare fondse oordeelkundig bestee word, ’n veilige omgewing geskep word en daar in belang van die gemeenskap opgetree word.

Die administratiewe rompslomp wat gepaard gaan met hersoneringsaansoeke, handelspermitte, ens. moet aangespreek word. Dit moet maklik wees om sake te bedryf en ’n sake-onderneming te begin.

Die VF Plus sê:

  • Funksionerende munisipaliteite sal die ekonomiese welstand van gemeenskappe stimuleer, werksgeleenthede deur die privaatsektor skep en armoede verminder.
  • Munisipaliteite se fokus moet nie wees om self direk werk te skep nie, maar eerder om ’n gunstige omgewing vir die privaat sektor te bewerkstellig om uit te brei en werksgeleenthede te skep.
  • Munisipaliteite moet ’n gunstige omgewing vir ekonomiese groei skep deur goeie dienslewering, infrastruktuurontwikkeling en -instandhouding en billike belastings en tariewe.
  • Administratiewe rompslomp in verband met die aansoek vir handelspermitte, hersonering, ens. moet uitgewis word.

Tyd dat amptenare vir inwoners werk

Die VF Plus is daarvan oortuig dat een van die kernoorsake vir swak dienslewering die ongebreidelde toepassing van regstellende aksie is waardeur ervare bestuurders en professionele lui uit munisipaliteite verstoot en vervang is deur ANC-kaders. Derhalwe het persone met beperkte of geen vermoëns om die publiek behoorlik te dien, soos vereis deur munisipale wetgewing, beheer geneem van broodnodige en basiese dienste wat nou feitlik inmekaar stort regoor die land.

Die ander oorsaak van finansiële tekorte en die gepaardgaande verval is die ongebreidelde aanstelling van senior amptenary, ’n oormaat administratiewe en politieke ondersteuningspersoneel en buitensporige salarisse. Baie van die geskepte senior poste is oorbodig en dra nie tot dienslewering by nie. Dit terwyl daar oor die algemeen ’n tekort aan kundiges en vakmanne, soos ingenieurs, elektrisiëns, ens. is.

Die VF Plus sal hom derhalwe beywer om bevoegde en gekwalifiseerde amptenare op meriete in diens te neem en in diens te hou. Die chaos by munisipaliteite ten opsigte van dienslewering en bestuur kan slegs opgelos word deur die mees kundige persone beskikbaar aan te stel. Nepotisme asook ander vorme van bevoordeling, soos politieke affiliasies, moet uitgewis word. So ook sal die VF Plus nie skroom om oorbodige senior, administratiewe en politieke ondersteunende poste te verminder nie en eerder vakmanne en amptenary aanstel wat direk en daadwerklik tot dienslewering sal bydra.

Waar ’n munisipaliteit nie die vermoë het om sekere dienste behoorlik te lewer nie, moet gemeenskappe en die privaat sektor toegelaat word om deel van die oplossing te wees.

Swak regering en binnegevegte, kenmerkend van ANC-beheerde munisipale regerings, moet uitgeroei word. Politieke ampsbekleërs en die amptenary moet daar wees om die inwoners te dien. VF Plus-verteenwoordigers in elke munisipale raad sal hulle beywer om óf in ’n koalisie die ANC tot ’n val te bring, óf ’n effektiewe waghondfunksie te verrig om te verseker dat die munisipaliteit vir sy inwoners werk.

Die VF Plus sê:

  • Bevorder ’n kultuur van diensbaarheid.
  • Stel die beste persone aan wat die werk kan verrig, ongeag velkleur en politieke affiliasie.
  • Vestig ’n verantwoordbare munisipale raad wat effektief oorsig oor munisipale finansies en amptenare bied en verantwoordbaarheid teenoor inwoners en hul basiese regte verseker.
  • Munisipale raadslede moet in belang van die gemeenskap optree en partypolitieke-faksies moet geen rol in die uitvoer van hul pligte speel nie.
  • VF Plus-raadslede sal as fasiliteerders dien om kiesers se munisipale probleme op te los.
  • VF Plus-raadslede sal nou saam met burgerregte-organisasies, buurtwagte, sakekamers en ander werk om die gemeenskap effektief te dien.

Tyd vir ’n nuwe bedeling met goeie waardes

Die VF Plus streef na ’n politieke bestel waar Christelike waardes geld en gekenmerk word deur die beginsels van integriteit, geregtigheid, eerlikheid, wedersydse respek, naasteliefde, respek vir lewe, lojaliteit en ’n vreedsame naasbestaan. Die VF Plus sal goeie en verantwoordbare regerings bevorder in ooreenstemming met dié beginsels.

Die VF Plus is verbind tot ’n regverdige bedeling vir almal. Dit geld nie net die meerderheid nie, maar ook minderheidsgroepe. Daarom veroordeel die party maatreëls wat post-apartheid-diskriminasie teen mense op grond van ras instel, soos regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging.

Dit is tyd vir ’n nuwe bedeling waar werklike gelyke regte bevorder word en geen gemeenskap vervreem moet voel nie.

Die VF Plus sê:

  • Bevorder die waardes van integriteit, geregtigheid, eerlikheid, naasteliefde, respek vir lewe, lojaliteit en ’n vreedsame naasbestaan.
  • Bevorder gelyke regte vir alle groepe en gemeenskappe.

Tyd vir effektiewe oorsig

Die tekort aan oorsig van munisipale amptenare en bestuur as gevolg van die ontbrekende politieke wil, lei tot onreëlmatighede en die afwesigheid van verantwoordbaarheid.

Dit is van belang dat munisipale rade hul oorsigrol oor die munsipale bestuur en uitvoerende gesag uitoefen. Dit behels die funksionering van oorsigkomitees, deeglike ondersoek van alle ongemagtigde, onreëlmatige, vrugtelose en verkwiste uitgawes en om amptenare aanspreeklik te hou vir oortredings.

’n Munisipale raad moet die belange van die gemeenskap dien en verantwoordelik die munisipaliteit regeer. Dit is belangrik dat raadslede hul oorsigrol speel om te verseker dat munisipaliteite aan wetgewing voldoen en effektief funksioneer.

VF Plus-kandidate beskik oor die nodige vaardighede om, waar hulle as raadslede verkies word, as deel van die groter VF Plus-span kundigheid en ervaring aan te wend tot voordeel van die munisipaliteit en die gemeenskap. Die VF Plus sal ’n sorgvuldige waghondrol in munisipale rade vervul.

Die VF Plus sê:

  • Burgemeesters moet meer effektief verantwoordbaar gehou word en die munisipale rade moet ’n meer daadwerklike rol in die leierskap van munisipaliteite speel.
  • VF Plus-raadslede sal ’n belangrike rol speel in oorsigkomitees van munisipale rade en sal gesamentlike kundigheid op ’n dinamiese wyse aanwend om effektiewe oorsig te verseker om daardeur beter verantwoordbare bestuur van munisipaliteite te bewerkstellig.
  • VF Plus-raadslede sal effektiewe opposisie teen onreëlmatighede, korrupsie, wanbestuur en verkeerde prioriteite bied.
  • Korrupsie, swak dienslewering, nepotisme, onbevoegdheid, wanbestuur en die oortreding van wetgewing sal deur die VF Plus ontbloot word en klagtes by toesighoudende instellings soos die Openbare Beskermer, die Suid-Afrikaanse Polisiediens en die Valke sal ingedien word om plaaslike regerings tot verantwoording te dwing.
  • Rekenpligtige amptenare (munisipale en stadsbestuurders) moet strafregtelik aangekla word vir die oortreding van wetgewing.

Tyd vir stabiele koalisieregerings

Die VF Plus sal na die verkiesing, sonder prysgawe van sy selfstandige identiteit of beginsels, saamwerk met ander partye en organisasies indien die party daarvan oortuig is dat so ’n samewerking die doelwitte van die gemeenskap en hierdie manifes sal bevorder – veral om die ANC se beheer van munisipale regerings weg te neem.

Navorsing en opnames toon dat daar in die komende verkiesing by verskeie munisipaliteite geen party sal wees wat ’n 51%-meerderheid steun op hom sal verenig nie.

Veelparty-, oftewel koalisieregerings maak dit moontlik dat partye wat saamstaan na die verkiesing ’n belangrike rol in sekere metro- en plaaslike munisipaliteite gaan speel. Die voordeel van veelpartyregerings is dat dit magsmisbruik minimaliseer en die waardes en denkrigtings van die groter gemeenskap, insluitend minderheidsgroepe, verteenwoordig.

Onstabiliteit is egter tans ’n kenmerk van koalisieregerings in die plaaslike regeringsfeer. Onderhandelinge tussen koalisievennote het in die verlede tekortgeskiet weens sekere vennote se kleinlikhede en hul onverbiddelike fokus op magsposisies. In baie gevalle is daar van een meningsverskil tot die volgende geswoeg en was daar gereelde onstabiliteit wat in sekere gevalle tot die beëindiging van sulke koalisies gelei het.

Die VF Plus is van mening dat koalisie-onderhandelinge geskoei moet wees om ’n gesamentelike program van regering daar te stel wat die waardes en beleidsrigtings van die vennote omarm en nie uitsluitlik moet gaan oor die onderhandeling vir poste en posisies nie.

Die onderhandelde program vir regering moet rigtinggewend vir alle toekomstige besluitneming deur die koalisieregering wees. Indien sodanige program sorgvuldig onderhandel en op ooreengekom word aan die begin van die munisipale termyn, sal onstabiliteit weens meningsverskille tussen vennote beperk word. Daar moet van die begin sekerheid wees oor wat die koalisieregering se onderhandelde standpunte oor aspekte soos aanstellings, begrotings, belastings en tariewe en ruimtelike ontwikkeling is.

Koalisieregerings moet gaan oor verantwoordelike magsdeling, kollektiewe besluitneming en gesamentlike verantwoordbaarheid.

Die VF Plus sal daarom daar waar geen party alleen kan regeer nie, die stabiele en beginselvaste vennoot wees wat daardie koalisies stuur om te fokus op dienslewering, finansiële dissipline en verantwoordbaarheid, eerder as op poste en politieke mag.

Die VF Plus sê:

  • Die VF Plus sal aan ’n koalisieregering deelneem om die huidige regeringsbeleid teen te staan wat tot die verval van munisipaliteite lei.
  • Die VF Plus sal binne ’n koalisieregering veg vir die regte van sy kiesers en opstaan teen rassediskriminasie, Swart Ekonomiese Bemagtiging en onbillike Regstellende Aksie-aanstellings.
  • Die VF Plus sal toesien dat sy beleidsrigtings en oplossings ingebou word in koalisieooreenkomste vir nuwe regerings wat totstand gaan kom.
  • Die VF Plus sal aandring op onderhandelde programme vir regerings wat gesamentlike besluitneming en verantwoordbaarheid bevorder.
  • Die VF Plus sal sodanig onderhandel en optree om stabiele koalisies tot voordeel van die inwoners te verseker.

SLOT

Dit is die oogmerk van plaaslike regering om ’n verantwoordingspligtige regering vir plaaslike gemeenskappe te voorsien, om te verseker dat dienste op volhoubare wyse aan gemeenskappe gelewer word, om maatskaplike en ekonomiese ontwikkeling te bevorder, om ’n veilige en gesonde omgewing te bevorder, en om die betrokkenheid van gemeenskappe en gemeenskapsorganisasies in plaaslike regeringsaangeleenthede aan te moedig.

Die VF Plus se ondersteuning van die afwenteling van mag, kan moeilik verwesenlik word solank munisipale rade die mees onbekwame vlak van regering is. Die probleem is nie te veel mag op die plaaslike vlak nie, maar te min.

Hierdie Manifes is ’n regrukplan vir munisipaliteite wat werkbare oplossings bied om die huidige wanbestuur, vervalle infrastruktuur, benarde finansiële toestand en ontoereikende dienslewering hok te slaan. Dit is gegrond op ’n visie vir dorpe en stede om te floreer.

Die VF Plus se aanbod aan kiesers is:

Plaaslike regerings waar die gemeenskap eerste gestel word; waar meriete en kundigheid met aanstellings geld; belastingbetalers se belastinggeld vir hulle werk; waar daar vryheid is om te bou en te groei; en waar stabiele, verantwoordbare en beginselvaste koalisies regeer.

Dit is tyd om reg te ruk, beheer te neem en ’n beter toekoms te verseker.

DIE

GROEN GAAN DIT DOEN

TIENPUNT-PLAN

1. Tyd dat gemeenskappe besluite oor hulself neem

Wentel mag en besluitneming af na so na as moontlik aan die gemeenskap; en gemeenskappe moet groter beheer verkry oor hul belastings, dienste, veiligheid, ontwikkeling en erfenis.

2. Tyd dat jou belastinggeld vir jou werk

’n Wesenlike hoeveelheid van die belastinggeld wat in jou wyk ingesamel word (jou erfbelasting en heffings), moet daar aangewend word; wend die billike aandeel aan om basiese dienste aan armes te lewer; besnoei oorbodige bestuursposte en stel meer vakmanne aan om dienste te lewer; en waarde vir belastinggeld deur gehalte dienslewering en effektiewe regering.

3. Tyd vir billike belastings en tariewe

Stop verhogings wat bo inflasie is; voorkom die noodsaak vir verhogings deur eerder onnodige uitgawes te besnoei; implementeer ’n eenvormige belastingstelsel en eenvormige dienstetariewe; implementeer slimmeters en akkurate diensterekeninge; en beskerm eiendomsreg en eiendomswaarde.

4. Tyd om infrastruktuur te herstel en te bou

Bestee infrastruktuurtoekennings ten volle; bestee ten minste 8% van die boekwaarde van eiendom, aanleg en toerusting jaarliks aan instandhouding; en stel kundiges en vakmanne aan.

5. Tyd vir finansiële verantwoordbaarheid

Kundige en professionele amptenary; funksionele oorsig deur rade en komitees; gevolge vir oortredings; en herwin fondse wat verlore gaan weens bedrog en korrupsie.

6. Tyd vir ’n gesonde en veilige omgewing

Stop die besoedeling van die omgewing; prioritiseer die instandhouding en ontwikkeling van rioolaanlegte en stortingsterreine; verseker die voldoening aan toepaslike wetgewing en effektiewe polisiëring daarvan; stop die verlies aan water weens gebarste pype en lekkasies; verseker samewerking tussen verskillende rolspelers om misdaad te voorkom en misdadigers aan te keer; en bevorder ’n veilige omgewing deur kring-televisiekameras en werkende straatligte.

7. Tyd vir werkskepping en ekonomiese ontwikkeling

Skep ’n gunstige omgewing vir die privaatsektor om ekonomiese groei te stimuleer en volhoubare werksgeleenthede te skep; wis administratiewe rompslomp uit en maak dit maklik om handel te dryf; en bevorder ’n omgewing wat beleggingsvertroue inboesem.

8. Tyd dat amptenare werk vir inwoners

Stop die aanstellings van amptenare wat nie op meriete gegrond is nie; stel die beste persoon vir die werk aan – ongeag velkleur of politieke affiliasie; verminder oorbodige senior en administratiewe poste en stel meer kundiges en vakmanne, soos ingenieurs, elektrisiëns, ens. aan; en bevorder ’n kultuur van diensbaarheid.

9. Tyd vir ’n nuwe bedeling met goeie waardes

Goeie en verantwoordbare regerings getrou aan Christelike waardes en ’n bedeling waar gelyke regte vir alle groepe en gemeenskappe geld.

10. Tyd vir effektiewe oorsig en stabiele koalisieregerings

Tree as stabiele, beginselvaste koalisievennoot op en veg vir die regte van VF Plus-kiesers binne koalisieregerings; tree as effektiewe waghonde teen wanbestuur, korrupsie en onbevoegdheid op; en verseker deursigtigheid en verantwoordbaarheid deur genoegsame oorsig.

Dit is ons tyd! Gebruik die geleentheid en stem vir hierdie manifes wat oplossings bied - groen gaan dit doen.

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.