Die VF Plus het vanaf 27 tot 31 Mei ‘n besoek gebring aan KwaZulu-Natal as deel van die parlementêre ad hoc-komitee wat oorsig doen oor die herstel van die vloedgeteisterde gebiede in KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap en Noordwes.
Verskeie distriks- en plaaslike munisipaliteite is besoek om ‘n eerstehandse beeld te kry oor die omvang van die skade ná die onlangse oorstromings en die impak daarvan op plaaslike gemeenskappe.
Die skade aan infrastruktuur, privaateiendom en die gevolglike negatiewe impak op die provinsiale- en plaaslike ekonomieë is enorm.
Munisipale besture het in hul voorleggings aan die komitee deur die bank aangedui dat hulle tot op hede grootliks op hulself aangewese is om dienslewering en basiese infrastruktuur te herstel.
Dít ten spyte van die feit dat die regering vroeër aangedui het dat R1 miljard vir dringende herstel bewillig word.
Die KwaZulu-Natal se provinsiale departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) het wel in samewerking met munisipaliteite verslae opgestel oor die omvang van die skade, en voorlopige kosteberamings vir herstelwerk is gedoen.
Dit is aan die nasionale tesourie deurgegee maar dit blyk dat substantiewe finansiële bystand van die nasionale regering eers teen September verwag word.
Die komitee het intussen ‘n vergadering met die minister van finansies, Enoch Godongwana, aangevra om die situasie te bespreek. Dit behoort eersdaags plaas te vind.
Die VF Plus het sy kommer uitgespreek oor die vertraging in die verskaffing van tydelike behuisingseenhede weens rompslomp en onsekerheid rondom die toegelate bedrae wat aan die eenhede bestee mag word.
Die LUR vir Cogta in die provinsie, Sipho Hlomuka, het op versoek van die VF Plus opdrag gegee dat munisipaliteite intussen alle beskikbare hulpbronne aanwend om opruimingswerk te doen.
Dit is om verdere skade aan veral brûe en stormwater- en rioolstelsels te verhoed. Dit sal ook verdere vertragings voorkom wanneer die groter langtermyn-herstelprojekte aangepak word.
Die VF Plus het verder versoek dat behoorlike prioritisering gedoen word in herstelprojekte met die doel om belangrike ekonomiese sentra en die toerismebedryf so gou as moontlik weer in volle bedryf te stel.
Dít is van kritieke belang vir volhoubare werkskepping en die verkryging van nuwe beleggings in die provinsiale ekonomie.
Die VF Plus het ook benadruk dat die herstel van die provinsie verder gaan afhang van die aanwending van kundiges in herstelprojekte en etiese politieke leierskap.
Daar kan nie toegelaat word dat hierdie rampsituasie in KwaZulu-Natal en die herstel van die provinsie, beklad word deur wanbestuur en korrupsie ten koste van die inwoners nie.


