Die prys wat Suid-Afrikaners vir petrol moet betaal, word vanaand verhoog. Die betalingsvakansie op die brandstofheffing, 'n tydelike maatreël wat verligting weens opwaartse druk op die brandstofprys moes bied, is verder verleng. Alle aanduidings is dat die verhoging nogtans 'n kwaai slag vir verbruikers sal wees; iets wat sal vererger as die toegewing beëindig moet word.
Die brandstofprys kan rofweg in twee gelyke dele verdeel word: Die basiese brandstofprys waar die prys van ru-olie en die rand/dollar-wisselkoers die belangrikste rol speel. Dan is daar die koste van verspreiding en verhandeling, sowel as 'n algemene heffing (belasting wat die nasionale tesourie as deel van die algemene begroting inreken) en die heffing wat die padongeluksfonds finansier.
Elke faktor in die berekening kan fyner ingestel word. Die winsgrens vir groot- en kleinhandelaars kan besnoei word, maar dit sal 'n klein verskil maak. Elkeen van hierdie koste-items beïnvloed die hele verspreidingsketting en besnoeiings kan tot ontwrigting lei.
Die departement vir minerale hulpbronne en energie het twee maande gelede erken dat die mees uitvoerbare verskil in die belastingkomponent lê. Op daardie stadium is 'n deel van die strategiese brandsrofreserwe verkoop, om 'n tydelike nie-verhaling van die brandstofheffing te finansier.
Dit was ooglopend 'n tydelike oplossing, in die hoop dat óf die ru-olieprys sal verlaag óf die wisselkoers meer gunstig raak. Dit het egter nie gebeur nie, wat beteken dat die herinstelling van die heffing by strukturele verhogings van die finale prys gevoeg word.
Wat Suid-Afrika tans in die gesig staar, is 'n ekonomiese ramp wat nie vir die Covid-19-pandemie terugstaan nie. Indiensneming, sowel as bestedingsvermoë van verbruikers kom onder ernstige druk. Weens dekades van ekonomiese wanbestuur is daar in die fiskus nie ruimte om hierdie uitdaging die hoof te bied, sonder om staatskuld te verhoog nie. Dit sal op sigself inflasiedruk skep.
Al wat oorbly, is dat die regering, nes die res van Suid-Afrika, sy gordel moet intrek. Die beste plek om te begin, is die groot aantal staatsdepartemente wat nie 'n sigbare verskil maak nie. Die VF Plus het telkens in die verlede daarop gewys dat die kabinet en gevolglik ook die aantal staatsdepartemente behoort te verminder.
Die departemente vir kleinsakeontwikkeling, vroue, kinders en mense met gestremdehede en sport, kuns en kultuur voeg tans min waarde toe, maar dit kos die staat gesamentlik bykans R10 miljard per jaar.
Indien onproduktiewe departemente afgeskaf en korrupsie doeltreffend bekamp word, sal die staat minder afhanklik van die meer as R80 miljard wees, wat die brandstofheffing tans bydra.
Die VF Plus se mening is derhalwe dat die brandstofheffing gehalveer moet word en dat die tesourie dringend terreine moet vind waar die nodige besparings gemaak kan word.
Verder is die padongeluksfonds, wat tans 'n hele R2,18 per liter uit die petrolprys ontvang, telkens in die nuus weens wanbestuur. Om dit reg te ruk, kan ook verligting in hierdie belasting bring.
Suid-Afrika het die stadium bereik dat laer belastingkoerse moontlik hoër inkomste kan meebring.
Negatiewe ekonomiese groei lei ook tot laer brandstofpryse, soos tydens die grendelstaat ervaar. Dan sterf ook hierdie gans wat die goue eiers lê.