Terwyl duisende inwoners van Ventersburg en Mmamahabane al vir meer as drie maande met onbetroubare watertoevoer sukkel, verkies die ANC-geleide Matjhabeng-plaaslike munisipaliteit om eerder R55 miljoen aan ’n sportstadion in Thabong te bestee.
Inwoners en ondernemings in die hoër dele van Ventersburg gaan sedert 11 Januarie gebuk onder ernstige watertekorte.
’n Versterkerpomp wat hierdie gebiede moet bedien, staan al vyf jaar buite werking terwyl dit teen slegs R120 000 herstel kan word.
Al drie boorgate is boonop buite werking met twee wat gevandaliseer is en een wat weens swak vakmanskap ineengestort. Daar is ook geen noodwatervoorsiening of watertenks om die krisis te verlig nie.
Die situasie het ’n hoogtepunt bereik oor Paasnaweek, toe vulstasies en ondernemings langs die N1 nie eens basiese dienste kon lewer nie. Dit het direk tot groot inkomsteverliese gelei.
Nogtans het die raad hierdie week die VF Plus se voorstel verwerp om die R55 miljoen wat vir ʼn stadion in Thabong begroot is, eerder te gebruik om die waterkrisis op te los.
Die burgemeester, Thanduxolo Khalipha, het bloot onderneem om te sorg dat die munisipaliteit saam met Vaal Sentraal Water na oplossings sal kyk.
Die ANC se keuse om ’n stadion bo water te prioritiseer, wys duidelik dat sy prioriteite nie by die inwoners van Ventersburg lê nie.
Gereelde besoeke en leë beloftes deur ANC-ministers van water en sanitasie die afgelope paar jaar, is verdere bewys daarvan
Water is nie ’n luukse nie, maar ’n basiese mensereg.
Die VF Plus sal aanhou druk uitoefen totdat hierdie krisis opgelos word. Inwoners verdien water, nie leë beloftes nie.


