Freedom Front Plus
Search
Freedom Front Plus

Grondhervormingsdepartement moet oop kaarte speel oor hervestiging van kleinboere op Stilbaai

Die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming en ander rolspelers moet oop kaarte met die inwoners van Stilbaai speel oor die besluit om kleinboere van Mosselbaai in die Stilbaai-omgewing in die Hessequa-plaaslike munisipaliteit te hervestig.

Hierdie versoek volg ná die departement die plase Schoongeleё en Soebatters Vlakte teen ʼn bedrag van R15,7 miljoen aangekoop het na ʼn uitspraak van die hooggeregshof dat alle onwettige varkboerdery in Kwanonqaba, Mosselbaai, gestaak moet word.

Hoewel die staat onder druk is om aan die hofbevel te voldoen, is die wyse waarop hierdie projek op die Hessequa-gemeenskap afgedwing word, onaanvaarbaar.

Die feit dat die grond reeds aangekoop is sonder ’n deursigtige openbare deelnameproses, is ’n skending van administratiewe geregtigheid. Inwoners en aangrensende boere is voor ’n voldonge feit geplaas dat dit sal gebeur.

Die Droëvlakte-gebied is bekend vir beperkte waterbronne. Om intensiewe boerdery-aktiwiteite daar te vestig sonder bewese haalbaarheidstudies, is ’n resep vir ekonomiese en ekologiese rampspoed.

Die hervestiging van vee uit ’n ander distrik na ’n bek-en-klouseervrye gebied, hou ’n massiewe risiko vir plaaslike landbou in. Boonop sal die verhoogde verkeer op die R305, die enigste toegangspad na Stilbaai, padveiligheid en toerisme ernstig benadeel.

Terwyl die departement miljoene bestee om boere van Mosselbaai te hervestig, word Hessequa se eie kleinboere van Melkhoutfontein en Slangrivier as ’n nagedagte behandel.

Die VF Plus, gerugsteun deur plaaslike landbou- en burgerlike forums, eis dat die departement onmiddellik die volgende doen:

• Stop alle vestigingsaksies: Geen boere of vee mag na die plase geskuif word voordat ’n volledige en formele openbare deelnameproses afgehandel is nie.
• Openbaarmaking van planne: Die sogenaamde “wetenskaplike nedersettingsplan” en sakeplanne vir hierdie plase moet onverwyld vir publieke insae beskikbaar gestel word.
• Prioritiseer plaaslike boere: Enige staatsgrond binne Hessequa moet in die eerste plek aangewend word om die behoeftes van plaaslike opkomende boere aan te spreek.

Die VF Plus beklemtoon dat die party nie in beginsel gekant is teen verantwoordelike grondhervorming nie.

Dit kan egter nie op hierdie oorhaastige en onbeplande wyse gedoen word nie. Om bloot probleme van een distrik na ’n ander te verskuif sonder deeglike studies, konsultasie en infrastruktuurbeplanning, is ’n resep vir nog ’n landbou-mislukking.

Grondhervorming moet op ’n grondslag van ekonomiese lewensvatbaarheid geskied om te voorkom dat dit bestaande boerderye destabiliseer, die omgewing skaad of die veiligheid en stabiliteit van die Stilbaai-gemeenskap in gevaar stel.

SHARE THIS:

RELATED POSTS

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.