fbpx
Freedom Front Plus
Search
Freedom Front Plus

Sol Plaatje: Verbruikers sal voortaan hulle kragverbruik moet bestuur

Elektrisiteitsverbruikers in die Sol Plaatje-plaaslike munisipaliteit (Kimberley, Modderrivier, Richie, Riverton) sal voortaan hul kragverbruik moet bestuur om verhoogde kostes te vermy. Die nuwe kragtariefstruktuur tree op 1 Julie 2023 in werking.

Sol Plaatje sukkel sedert 2018 om ʼn struktuur in werking te stel wat aan munisipale wetgewing voldoen.

Die kans bestaan dat Sol Plaatje se Eskom-skuld afgeskryf kan word mits die tariefstruktuur aan wetgewing voldoen. In die jaarlikse oudit van die ouditeur-generaal (OG), was daar ʼn uitwysing hieroor.

Die nuwe tariefstruktuur is daarop gemik om kragpieke, wat kragvoorsiening in gevaar stel, te bekamp.

Volgens die munisipale bestuurder, mnr. Thapelo Matlala, word Sol Plaatje tydens die wintermaande tot R50 miljoen per maand beboet as gevolg van piekverbruik.

Indien die gemeenskap sy kant bring deur die pieke te voorkom, kan die munisipaliteit die R130 miljoen verlies per jaar verlaag.

Die nuwe struktuur gee die verbruiker die kans om sy eie grootte stroombreker te kies. Aanvanklik sal ʼn basisheffing moontlik teen R3 per Ampère gehef word. Indien die verbruiker meer elektrisiteit gebruik as waarvoor voorsiening gemaak is, sal die breker outomaties afskakel.

Indien die verbruiker se vraag na elektrisiteit hoër is, sal ʼn groter breker geïnstalleer word en die basisheffing dienooreenkomstig verhoog.

Dit is belangrik dat verbruikers vooraf seker maak op watter tarief hulle wil wees.

Mnr. Kenneth Samolapo, waarnemende finansiële hoof, het tydens ‘n spesiale finansies-komiteevergadering gesê dat dit onmoontlik is om die tienduisende kragmeters in die munisipaliteit meteens om te skakel. Dit sal dus stelselmatig moet gebeur.

Goeie kommunikasie is noodsaaklik om te voorkom dat hierdie veranderinge tot onrus aanleiding gee. In 2018 het ‘n nuwe tariefstruktuur juis die stad tot stilstand gebring.

SHARE THIS:

RELATED POSTS

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.