Binne die volgende 20 jaar gaan 53% van alle nuwe wonings in Kaapstad informele strukture wees.
Dié bevinding is vervat in ʼn skokverslag van die metro se departement van water en sanitasie.
Die verslag meld voorts dat Kaapstad se erkende informele nedersettings tussen Maart 2016 en Junie 2020 met 60 000 strukture gegroei het.
Hierdie scenario is uiters onrusbarend en die VF Plus het die stad se portefeuljekomitee vir water en sanitasie versoek om dringend ‘n verstedelikingsplan op te stel om die invloei van mense na die stad te verreken.
Daar kan nie hiermee gewag word totdat die stad oorstroom word met mense sonder verblyf nie en daar moet nou reeds ernstig oor toekomstige behoeftes besin word.
Hierdie voorspelde groei van ekonomies onaktiewe mense beteken dat gratis basiese dienste deurlopend en onbepaald aan al dié huishoudings verskaf sal moet word.
Hierdie koste sal uiteraard van die stad se betalende inwoners verhaal moet word wat in die toekoms swaar gaan dra aan die las van die voorsiene groei.
Die vraag na huidige behuising oortref reeds toenemend die aanbod en die migrasie na Kaapstad gaan ʼn geweldige las op die stad se bestaande infrastruktuur plaas.
Die teikens van die nasionale regering is om vir elke vyf informele huishoudings een toilet en een gemeenskaplike kraan vir elke 25 huishoudings daar te stel.
Vir die kwartaal teen einde Maart 2023 het Kaapstad 507 gemeenskaplike krane en 4 070 toilette aan nuwe informele nedersettings verskaf.
Die volhoubaarheid hiervan sal in die toekoms gedra moet word deur ʼn krimpende belastingbasis van bestaande inwoners wat reeds finansieel swaar trek.
Teen hierdie agtergrond is die behuisingsagterstand in Kaapstad reeds meer as 400 000 en daar is min hoop vir mense wat in gevalle al langer as 20 jaar op huise wag.
Om die saak te vererger, het die Wes-Kaapse departement van menslike nedersettings bevestig dat behuisingsubsidies vir diegene wat minder as R3 500 per maand verdien, reeds vir 2023 uitgeput is.
Alhoewel daar nie ʼn tekort aan kontantvloei in die stadsbegroting is nie, is daar wel ‘n duidelike tekort aan beplanning wat dringend nodig is vir die behuisingsprobleem.
Dit is vir die VF Plus belangrik dat die belange van bestaande inwoners deurentyd die swaarste moet weeg in die hele proses.
Daar sal hard besin moet word oor die aangeleentheid om te voorkom dat Kaapstad in ʼn groot plakkerskamp ontaard.