fbpx
Freedom Front Plus
Search
Freedom Front Plus

MRK besoek Ellisras oor riool- en lugbesoedeling

Die menseregtekommissie (MRK) het in reaksie op klagte van riool- en lugbesoedeling wat die VF Plus by dié kommissie ingedien het, die party onlangs vergesel op ʼn oorsigbesoek aan die Medupi-kragstasie en die rioolsuiweringsaanlegte op Ellisras.

Die MRK se afvaardiging het bestaan uit die provinsiale senior regsbeampte, adv. Badantswana Munei, en die provinsiale bestuurder, mnr. Victor Mavhidula.

By die Medupi-kragstasie is gevind dat die groot oorsaak van die lugbesoedeling die wegdoening van die as van verbrande steenkool is. Die as word nie meer per vervoerband na die Matimba-ashoop vervoer nie, maar bloot langs die kragstasie gestort.

Die geringste briesie waai die fyn as oor die stortingsterrein, Ellisras en omgewing.

By die Paarl-rioolsuiweringsaanleg, wat vyf jaar gelede opgegradeer is, oorspoel riool ʼn inwoner se grond langs die aanleg wanneer die aanleg oorlaai word.

Die meeste rioolpompstasies is ook buite werking wat veroorsaak dat riool terugstoot in woongebiede.

‘n Pompstasie by Palm Park Hotel is gereeld buite werking en veroorsaak instromings van riool direk in die Mogolrivier wat langs dié hotel loop.

Die VF Plus se raadslid in die Lephalale-plaaslike munisipaliteit, Hendrik Venter, het die MRK-afvaardiging ook vergesel na die Machauka Lodge waar die eienaar op eie onkoste meer as R50 000 bestee het om ’n riooldam, wat langs die onderneming gevorm het, te probeer herstel.

Dit kom nadat die onderneming verdere verlies van sake wou voorkom weens die ondraaglike stank.

Die MRK het onderneem om die sake na Limpopo se departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) te verwys vir dringende ingryping.

Die VF Plus sal sy druk volhou dat inwoners van Ellisras se grondwetlike reg om in ʼn skoon en veilige omgewing te leef en werk eerbiedig word.

SHARE THIS:

RELATED POSTS

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.