fbpx
Freedom Front Plus
Search
Freedom Front Plus

Misdaad in Gauteng styg en vier hoogty onder ANC-regering

Dit is baie duidelik dat misdaad in Gauteng onder die ANC-regering styg en seëvier.

Die Gautengse misdaadstatistiek vir die vierde kwartaal van die 2022/2023-finansiële jaar (Januarie tot Maart 2023) skets weereens ʼn donker prentjie.

Dis veral misdaad waar gewone mense in lewensgevaar verkeer wat hardnekkig groei. Die verslag dui aan dat moord met 10,9% gestyg het teenoor dieselfde tydperk verlede jaar en poging tot moord het met 6,9% gestyg. Aanranding is op met 9,7% en roof met 2,7%.

Die roof van kontant wat vervoer word, het met ʼn ongelooflike 22,7% gestyg, inbrake by nie-residensiële geboue met 20,2%, veediefstal met 14% en winkeldiefstal met 22,3%.

Die moord- en aanranding-statistieke is nie net ʼn aanklag teen die ANC om lewens te beskerm nie, maar die roof-, inbraak-, veediefstal- en winkeldiefstal-statistiek is ook ʼn aanduiding van die uiters swak ekonomiese beleid van die ANC in Gauteng wat eerder werksgeleenthede vernietig as skep en sodoende talle mense in misdaad laat verval.

Die invloei van onwettige immigrante na Gauteng vir beter ekonomiese vooruitsigte, skep ook enorme druk op die inwoners wat lei tot groeiende konflik, kompetisie vir oorlewing en gevolglik ook misdaad.

Dit blyk dat daar wel moontlik goeie nuus is deurdat die persentasie seksuele misdrywe soos verkragting met 4,4% en seksuele aanranding met 15,9% geval het, maar die statistieke vir die poging tot die pleeg van seksuele misdrywe het geweldig gestyg met 28,1%. Dit is ʼn onrusbarende aanduiding dat vroue steeds nie veilig in Gauteng is nie.

Daarby is die VF Plus oortuig dat die statistiek nie noodwendig korrek is nie weens ʼn onder-rapportering van misdaad deur gemeenskappe wat nie meer vertroue in die ANC-beheerde Gautengse regering en die polisie het nie.

Talle mense sien eenvoudig geen nut daarin om misdaad by die polisie aan te meld nie, want dit is bekend dat min sake opgelos word en uiters min suksesvolle vervolgings vind plaas.

Die groei in gemeenskappe se aksies om vermeende misdadigers self te vang en te straf, is ʼn sterk aanduiding van hierdie kommerwekkende tendens.

Die invloei van sake, ten spyte van onderrapportering, oorweldig die onderbemande speurdienste en forensiese-afdelings van die polisie weens ʼn steeds te hoë werkslading in verhouding tot die aantal speurders en forensies kundiges. Dié wanbalans lei dan weer tot swak voorbereide sake wat tot by die howe vorder waar dit op tegniese punte verwerp word.

Die VF Plus is wel dankbaar vir elke in inhegtenisneming wat gemaak word al is dit min. Dit is egter nie goed genoeg nie. Die koue statistieke op papier kan nooit werklik die pyn van misdaad en die impak daarvan op gemeenskappe weergee nie.

Dit is duidelik dat die ANC die stryd teen misdaad in Gauteng verloor en daarom is dit tyd om die ANC uit die regering te stem tydens die 2024-verkiesing.

SHARE THIS:

RELATED POSTS

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.