fbpx
Freedom Front Plus
Search
Freedom Front Plus

Gestremdes steeds ʼn gemarginaliseerde groep

Persone met gestremdhede is steeds een van die mees gemarginaliseerde groepe in die land. Hulle het swak toegang tot basiese dienste en voer daagliks ʼn stryd om bystand te verkry.

Terwyl Suid-Afrikaanse wetgewing veronderstel is om hierdie groep te ondersteun en hindernisse te oorkom, word hulle dikwels juis verhinder om tot die ekonomiese-, burgerlike- en gemeenskapslewe toe te tree.

Artikel 9 van die Handves van Regte, wat wyd beskou word as van die mees progressiewe in die wêreld, bepaal spesifiek dat daar teen niemand gediskrimineer mag word op grond van onder meer gestremdheid nie.

Dit beskerm ook uitdruklik die regte van gestremde persone deur te bepaal dat die staat die nodige stappe moet neem om persone, of kategorieë van persone, wat deur onbillike diskriminasie benadeel word, te beskerm en te bevorder.

In teenstelling hiermee, het Statistiek SA byvoorbeeld bevind dat persone met ernstige gestremdhede probleme ondervind om toegang tot onderwys en werksgeleenthede te verkry.

Waar ʼn gestremde persoon aan die hoof van ʼn huishouding staan, is dit dikwels ʼn opdraande stryd om toegang tot basiese dienste te bekom.

Tydens die Covid-19-pandemie moes persone met gestremdhede vele ernstige uitdagings oorkom om gesondheidsorg te kry en hulle kon dikwels nie noodsaaklike medikasie, terapie of rehabilitasie ontvang nie.

Nog ʼn skokkende voorbeeld is die 2016 Life Esidimeni-tragedie waar 118 van Gauteng se mees kwesbare geestesgestremde persone dood is.

Dit was nadat die provinsiale gesondheidsdepartement hulle na verskeie swak toegeruste en ongeregistreerde geriewe geskuif het.

Talle basiese menseregte, insluitend die reg op lewe, is eenvoudig ter syde gestel en die regsgevolge van hierdie tragedie, wat die gesondheidsombudsman met ʼn beesveiling vergelyk het, is astronomies.

Die inwerkingstelling van die nasionale wetgewing, sowel as die monitering van sulke kwesbare groepe, lyk goed op papier, maar die prosesse om dit prakties uit te voer bestaan net in die regering se drome.

Die presidensiële werkgroep vir gestremdhede wat vroeēr vanjaar gestig is, is waarskynlik nog ʼn groep wat baie gaan praat en min gaan uitvoer.

SHARE THIS:

RELATED POSTS

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.