Inwoners van Rissieville in die DA-beheerde Midvaal wat lank reeds probleme met hul watertoevoer ondervind, het die VF Plus genader om hulp omdat die betrokke DA-wyksraadslid skynbaar onwillig is om te help en selfs beledigend is teenoor inwoners wat haar met hul probleme nader.
Die VF Plus het formele klagte ontvang van inwoners, asook ‘n klankopname van ‘n gespreksgroep waar die wyksraadslid, me. Salomie van Rensburg, onlangs in onwelvoeglike en kru taal aan die mense op die groep sê om haar nie te belas met hul probleme nie.
Die VF Plus het vandag ‘n skrywe gerig aan die speaker van Midvaal, mnr. Freddie Peters, waarin hy gevra word om die saak op te neem en die gepaste stappe teen me. Van Rensburg te neem in belang van die inwoners wat geldige probleme het.
In die klankgreep kan onder meer gehoor word hoe die “f”-woord herhaaldelik gebruik word en aan ‘n persoon gesê word om self ondersoek in te stel na wat die oorsaak van hul waterprobleem in die gebied is.
Sy sê ook dat die waterprobleem nie voor Midvaal se deur geplaas moet word nie, maar wel voor die ANC-beheerde Emfuleni-munisipaliteit.
Dit is onaanvaarbaar dat ‘n openbaar verkose lid van ‘n politieke party wat in diens van die publiek staan, op hierdie wyse optree.
Die kruks van die probleem is dat inwoners van Rissieville hul water en krag van Emfuleni kry maar hul rekeninge van Midvaal en daar moet betaal.
Dit skep probleme en verwarring en die VF Plus sal ‘n gesprek voer met die Gautengse LUR van plaaslike regering, mnr. Uhuru Moiloa, om ‘n oplossing te vind. Die VF Plus se voorstel is dat die infrastruktuur na Midvaal oorgedra word om Emfuleni uit die proses te skakel. Dit sal verhinder dat aanspreeklikheid van die een na die ander rondgeskuif word.
Kontaknommer: 071 640 7283