fbpx
Freedom Front Plus
Search
Freedom Front Plus

Bittereinderdag: ‘n Rooiletterdag in Afrikaners se vryheidstryd

In die huidige bedeling het talle Afrikanerorganisasies 31 Mei as Bittereinderdag begin vier. Aangesien dit aanvanklik as Republiekdag bekend was, ontstaan die vraag: Waarom nou Bittereinderdag?

Dié dag het aanvanklik rooiletterstatus gekry toe die Vrede van Vereeniging op daardie datum in 1902 onderteken is.

Dit het die vryheid wat Afrikaners in die negentiende eeu met groot opoffering verwerf het, tot niet gemaak.

Aanvoerders van die Boeremagte het van oraloor na Vereeniging vertrek om oor vrede te beraadslaag. Brittanje was onverbiddelik: Totale oorgawe, of die oorlog gaan voort.

Manskappe moes hul aanvoerders opdrag gee oor die besluit en byna elke kommando het laat weet: "Veg voort, ons kan nog uithou! Met ons gaan dit sleg, maar elders gaan dit seker beter!"

In vodde, op maer perde en met die winter op hande het hulle byeengekom.

Soos elkeen sy verslag gee, het dit duidelik geword dat dit nêrens beter gaan nie. Boonop het gerugte van die angswekkende sterftesyfer in konsentrasiekampe na burgers in die veld deurgesyfer.

Eindelik was die algemene gevoel: "Ons het gesê ons sal veg tot die bitter einde. Hierdie is die bitter einde. Ons veg vir die vryheid van ons volk. Wat help dit ons wen op die slagveld, maar die volk het in konsentrasiekampe vergaan?”

Dit was die argument van oorgawe ter wille van vrede – en die meerderheid afgevaardigdes het dit uiteindelik so aanvaar.

Na dié bitter einde het die bitter begin gevolg. Manskappe wie se vroue en kinders dood is, moes terug plaas toe.

Vroue en kinders wie se man of pa dood of krygsgevangenes was, moes verbrande murasies weer tot woning maak en begin boer waar alles vernietig is.

Die Unie van Suid-Afrika onder die Britse vlag is op 31 Mei 1910 gestig; die Republiek van Suid-Afrika op dieselfde dag in 1961.

Afrikaners ná 1994 het nie die behoefte om die Britse Unie van 1910, of die welvaart en belofte van die republiek van 1961, te herdenk nie.

Die vegters van 1902, die manne in die veld, die vroue en kinders in kampe, ook agterryers wat aan die ontvangskant van Britse aggressie was, begeester die huidige geslag veel eerder; hulle wat van voor af moes begin.

Vandag vier die VF Plus die kanniedood-benadering van die Bittereinders.

 

SHARE THIS:

RELATED POSTS

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.