Die VF Plus verwelkom die besluit van Shaun Abrahams, die nasionale direkteur van openbare vervolging (NDOV), om voort te gaan met die strafregtelike klagtes teen oud-president Jacob Zuma.
Zuma het gesê hy sal graag sy dag in die hof wil hê om sy onskuld te bewys, en nou kry hy die geleentheid om dit te doen.
"Die besluit van Abrahams om Zuma te vervolg is die regte besluit, maar dit is jammer dat dit nou eers na byna tien jaar en na die vermorsing van miljoene rande van belastingbetalers se geld eers gebeur. In die belang van deursigtigheid en vir die belastingbetalers van Suid-Afrika, word die besluit verwelkom," sê Dr Pieter Groenewald, VF Plus leier.
"Die vraag is of die beginsel van deursigtigheid en die belang van die mense van Suid-Afrika waarvan Abrahams melding maak, dan nie veronderstel was om nog altyd te geld nie. Dit is duidelik dat Abrahams na baie jare nou skielik toegee aan druk en dat dit ‘n poging is om homself te red om in sy pos aan te bly.
"Die VF Plus is steeds van mening dat Abrahams nie bevoeg en geskik is vir die pos van nasionale direkteur van openbare vervolging nie en dat hy so gou moontlik vervang moet word met ‘n bevoegde persoon wat meer waardigheid en integriteit aan die nasionale vervolgingsgesag kan gee.
"Dit was nog altyd die VF Plus se standpunt dat daar ‘n smet aan die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) kleef weens die beweringe van korrupsie met die wapen-aankopeprogram en die beweringe dat Zuma daarby betrokke was.
"Hier ontstaan nou ook ‘n geleentheid om die mense van Suid-Afrika in te lig dat, indien daar wel korrupsie was, die persone wat daarby betrokke was, aan die pen gaan ry. Dit kan die beeld van die weermag verbeter vir die toekoms," sê Groenewald.