Die VF Plus veroordeel die voorval vanoggend waar Floyd Shivambu van die EFF ‘n joernalis op die parlementsgronde aangerand het, ten sterkste en sal onmiddellik ‘n brief rig aan die Speaker van die parlement, Baleka Mbeti, om haar te versoek om teen Shivambu op te tree.
Na verneem word het die joernalis, Adrian de Kock, ‘n videograaf van Netwerk24, aangedui dat hy ‘n saak van aanranding by die polisie aanhangig gaan maak.
Op videomateriaal wat deur ander joernaliste geneem is, kan duidelik gesien word hoe Shivambu en nog ‘n man De Kock rondruk, aan sy keel gryp en sy kamera van hom probeer afneem.
"Die VF Plus beskou die saak in ‘n baie ernstige lig. Dit is ‘n direkte aanval op mediavryheid en vryheid van spraak. Die EFF het pas ook die nuuskanaal eNCA aangeval oor sogenaamde eensydige beriggewing. eNCA ontken dit ten sterkste," sê Corné Mulder, VF Plus Hoofweep in die parlement.
"Die VF Plus sal benewens die versoek aan die Speaker ook toesien dat die polisie die saak met die nodige erns en dringendheid ondersoek.
"Joernaliste het oor die laaste jare ‘n uiters belangrike rol gespeel om staatskaping, bedrog en korrupsie in Suid-Afrika bloot te lê.
"Die rol wat die media as waghond in Suid-Afrika speel, is van kritieke belang vir die gemeenskap, en hulle moet toegelaat word om hul werk sonder vrees te doen," sê Mulder.