"Solly Msimanga, die DA se aangewese premierskandidaat vir Gauteng, is opportunisties en oneerlik deur te sê die DA sal e-tol in Gauteng afskaf indien die DA beheer oor die provinsie verkry. Msimanga het ‘n twiet tot dié effek uitgestuur," sê Anton Alberts, VF Plus-voorsitter.
Alberts sê net die nasionale regering kan e-tol kan afskaf. 'n Provinsiale regering – in hierdie geval Gauteng – kan hoogstens ‘n dispuut oor die aangeleentheid met die nasionale regering verklaar en indien dit nie suksesvol is nie, kan die provinsiale regering die saak verder in die hof voer met staatsgeld.
"Dit is jammer dat die DA die publiek met oneerlikheid probeer mislei om punte aan te teken voor die algemene verkiesing later vanjaar.
"Indien die ANC in Gauteng by die stembus verslaan word – waarvoor die VF Plus hom beywer – sal die DA dit nie op sy eie kan vermag nie en sal die provinsie net deur ‘n koalisie van politieke partye regeer kan word waarvan die VF Plus ‘n vennoot sal wees.
"Wanneer dit gebeur, sal die VF Plus gewis die voortou neem om ‘n grondwetlike dispuut met die nasionale regering te verklaar. Indien die regering nie gehoor wil geen aan die oproep nie, sal die VF Plus ook aan die voorpunt staan om die saak hof toe te neem.
"Dit is bekend dat die VF Plus die eerste party is wat toegetree het tot die jarelange stryd teen e-tol en die party sal voortgaan om dié ongrondwetlike stelsel te beveg tot dit eindelik afgeskaf word as deel van die party se Slaan Terug-veldtog tot voordeel van almal in Suid-Afrika," sê Alberts.