"Noordwes se LUR vir onderwys, Sello Lehari, moet ophou om politiekery te maak van die situasie by die Laerskool Schweizer-Reneke en die Hoërskool Stilfontein, en dit sal die DA loon om oop kaarte met die publiek te speel oor hul aandeel in die Schweizer-Reneke-debakel," sê dr Pieter Groenewald, VF Plus-leier.
"Deurdat Lehari weier om die verslag rakende die Laerskool Shweizer-Reneke bekend te maak, en telkens weer te bespiegel oor moontlike verdere skorsings weens gewaande rassisme, bly hy olie op die vuur gooi wat groot skade aan rasseverhoudinge in Suid-Afrika aanrig.
"Die VF Plus daag Lehari uit om sy verslag onmiddellik bekend te stel sodat personeel by die skool sekerheid kan kry oor hul onmiddellike toekoms of om teenaksies te beplan indien nodig.
"Wat die DA aanbetref, is dié party skynheilig om nou te wil terugkrabbel oor hul aandeel in die situasie. Die DA weier nou om sy jeugleier, Luyolo Mphithi, te repudieer en te dissiplineer oor sy optrede en probeer die indruk skep dat hy na die skool gegaan het om die feite oor die aangeleentheid vas te stel.
"Die waarheid is dat hy hom dadelik oor die voorval uitgespreek het. Dit is opgevolg met ‘n verklaring van die DA se leier in dié provisie, Joe McGluwa, waarin hy ook die voorval sonder meer as rassisme bestempel en veroordeel het.
"Indien die DA nou sê die betrokkenes het gegaan om die feite vas te stel, maar dit nogtans summier as rassisme bestempel het, beteken dit dat dié party, net soos die ANC, politiekery daarvan maak ten koste van die onderwysers en leerlinge.
"Die standpunt van die VF Plus is dat alles moontlik gedoen moet word om kinders van alle rasse wat pas met hul skoolopleiding begin het, nie aan die trauma van ‘n rasse-debakel bloot te stel nie.
"Die gebeure onderstreep ook die noodsaaklikheid van moedertaalonderrig waarvoor die VF Plus hom beywer sodat kommunikasie, ongeag kleur, die kriterium moet wees in ‘n onderwys-omgewing.
"Om die probleem van protesoptogte by skole stop te sit, het die VF Plus verlede jaar ‘n privaatlid-wetsontwerp ingedien om die Wet op die Regulering van Openbare Byeenkomste te wysig om enige optog of betoging binne 500m van enige skool of ander instansie waar minderjariges teenwoordig is, onwettig te maak.
"Die VF Plus se wetsontwerp sal vanjaar in die parlement se polisiekomitee bespreek word sodra die parlement open. Die VF Plus-leier, dr. Pieter Groenewald, sal saam met Adv. Anton Alberts, voorsitter van die VF Plus, die saak stel oor waarom die wetsontwerp wetgewing moet word," sê Groenewald.