fbpx
Freedom Front Plus
Search
Freedom Front Plus

Resultate ná jarelange stryd van VF Plus oor probleme in puntestelsel-vakansieklubbedryf

‘n Stryd van etlike jare wat die VF Plus namens verbruikers gevoer het, is vandeesweek eindelik beloon toe ‘n paneel van die departement van handel en nywerheid wat aanbevelings moes maak oor probleme in die vakansieklubbedryf, die VF Plus se siening hieroor bevestig het.

Die aanbevelings van die paneel is hoofsaaklik daarop gemik om gebreke in die puntestelsel-vakansieklubbedryf reg te stel en verskeie aanbevelings is in dié verband gemaak.

"Die VF Plus sal sorg dat die aanbevelings in die verslag uitgevoer word sodat verbruikers eindelik vrygestel kan word van onbillike kontrakte, en die dienste kry waarvoor hulle betaal het," sê adv Anton Alberts, VF Plus-LP en voorsitter.

Van groot belang is die bevinding dat ewigdurende kontakte problematies is en dat kontrakte net vir ‘n sekere termyn moet geld, asook dat kontrakte makliker gekanselleer moet kan word.

Van verdere belang is die bevinding dat monopolieë die bedryf tans beheer, en dat ruimte geskep moet word vir mededinging wat beter produkte en verbruikersdienste daar sal stel.

Alberts sê verbruikers moet daarvan kennis neem dat hierdie verslag gerig is op die toekoms en nie noodwendig onmiddellike probleme vir individuele verbruikers sal oplos nie. Die VF Plus beveel daarom aan dat individuele klagtes oor vakansieklub-kontrakte steeds by die Verbruikerskommissie ingedien moet word vir beregtiging.

Hy sê die paneel se aanbevelings sal in wetgewing omgeskakel moet word wat tot twee jaar kan duur en daarom is dit belangrik dat persoonlike klagtes by Verbruikerskommissie ingedien moet word.

Die Verbruikerskommissie se kommissaris het bevestig die kommissie gaan intussen met die bedryf skakel om seker te maak dat kontrakte met pensioentrekkers en bejaarde persone wat ewigdurend van aard is en deur aggressiewe bemarking aangegaan is, onmiddellik gekanselleer word.

"Die VF Plus sien dit ook as ‘n groot probleem en is saam met verbruikers verheug oor die onderneming van die kommissaris. Die party sal die onderneming nogtans moniteer om te sorg dat dit wel uitgevoer word en onmiddellik in werking tree.

"Hierdie uitslag onderstreep die belangrikheid van ‘n politieke party in die parlement wat in die belang van verbruikers optree, en die publiek moet die krag van ‘n politieke party se invloed in die parlement nie gering ag nie," sê Alberts.

 

SHARE THIS:

RELATED POSTS

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.