"Die Menseregtekommissie (MRK) moet verantwoordelikheid neem vir die opruiende rassistiese uitsprake, haatspraak en opsweping tot geweld van die EFF-leier Julius Malema weens die MRK se jarelange versuim om teen hom op te tree, selfs na verskeie formele klagtes wat die VF Plus teen Malema ingedien het," se Pieter Groenewald, VF Plus-leier.
Malema het Donderdag weer neerhalend verwys na adv. Paul Pretorius SC, hoof van die regspan wat adjunkhoofregter Raymond Zondo aangewys het as deel van die regterlike kommissie van ondersoek na staatskaping en het gesê dit is jammer dat ‘n “wit man” in die posisie aangewys is.
Die grondkwessie het die potensiaal om konflik te veroorsaak as gemoedere onnodig aangejaag word
"Veral rondom die uiters sensitiewe grondkwessie maak Malema gereeld in parlementêre debatte die uitlating dat wittes swartes vermoor, en hul grond gesteel het, sê Groenewald.
Die VF Plus het oor die jare reeds verskeie klagtes teen die EFF-leier by die MRK ingedien. Een daarvan in 2016 toe hy volgelinge aangehits het om wittes van hul grond te verjaag en die grond te beset.
"Met die aanloop tot die 2014-verkiessing het die VF Plus verskeie klagtes van haatspraak ingedien by die MRK, die Openbare Beskermer (OB) en die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) aangesien daar wetlike voorskrifte is waaraan politieke partye moet voldoen.
"Sulke uitlatings is verdelend en het die potensiaal om ‘n bloedbad te veroorsaak indien mense in groot getalle gehoor gee daaraan. Dit is daarom verstommend dat die MRK nie teen Malema optree nie terwyl dit bekend is dat hulle vinnig optree en swaar strawwe oplê in gevalle waar wittes rassistiese uitsprake gemaak het.
"Die grondkwessie het die potensiaal om konflik te veroorsaak as gemoedere onnodig aangejaag word. Dit is daarom uiters kommerwekkend en betreurenswaardig dat die MRK en die OVK verkies om weg te kyk terwyl die leier van ‘n politieke party uit sy pad gaan om rasseverhoudinge in die land te verongeluk.
"Die VF Plus sal in gesprek tree met die MRK in dié verband, en sal ‘n beroep op hom doen om die klagtes na behore te ondersoek," sê Groenewald.