Die skynbare strenger optrede deur die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) en die Valke met betrekking tot ondersoeke en optrede teen korrupsie en bedrog in die staatsdiens word heelhartig deur die VF Plus verwelkom, so ook die klopjag op die kantore van die premier van Noordwes, Supra Mahumapelo.
"Die klopjag wat Donderdag op die premier se kantore uitgevoer is, hou glo verband met ‘n kontrak wat vir drie jaar tussen die Noordwes-regering en Nepo Data Dynamics aangegaan is wat glo help met die verskaffing van internet- en bemarkingstelsels in die kantoor van die premier en ander regeringskantore, sê , sê Michal Groenewald, VF Plus leier in die provinsie .
"Die kontrak is aangegaan vir die tydperk vanaf 2016 tot 2019 en nagenoeg R215 miljoen is reeds aan Nepo Data Dynamics oorbetaal.
Die beweerde ongerymdhede spruit glo hieruit voort.
"Dit is onaanvaarbaar dat staatskoffers gestroop word en belastingbetalers se geld langer gesteel word deur blatante tenderbedrog en korrupsie. Sekere diensverskaffers buit die staat al vir die afgelope 24 jaar onder die ANC-regering se bewind uit.
"Noodsaaklike fondse vir infrastruktuurontwikkeling en die verbetering van die mense van Noordwes se lewens word aan kaders deur middel van frontmaatskappye uitbetaal. Die feit dat die hoogste leierskap in die provinsie hierby geïmpliseer word, is ‘n skande en die regerende party behoort hom te skaam.
"Die VF Plus vertrou dat die saak die nodige aandag geniet en sal die vordering van die ondersoek fyn dophou," sê Groenewald.