fbpx
Freedom Front Plus
Search
Freedom Front Plus

Listeriose ‘n aanduiding van ‘n disfunksionele regering

Listeriose is een van die simptome van ‘n regering wat nie meer in staat is om behoorlike dienste te lewer nie en waar ‘n totale agteruitgang op alle vlakke die norm is.

Die land se gesondheidsdienste is ‘n goeie voorbeeld en onnodige sterftes is nie ‘n vreemde verskynsel in dié departement nie. Dit het normaal geword dat mense wat in staatshospitale beland meestal soontoe gaan om te sterf weens ‘n gebrek aan dienslewering.

"Dit is skokkend, maar nou reeds  byna normaal, sê adv. Anton Alberts, VF Plus-voorsitter en parlementêre woordvoerder vir Gesondheid

"Die siekte van roekelose dienslewering deur die ANC-regering versprei tans soos ‘n virus. Onlangs was daar die Esidimeni-tragedie en nou die grootste listeriose-epidemie in die wêreld se geskiedenis.

"Alhoewel dit nou vir die regering gerieflik is om vingers na 'n sekere maatskappy te wys, is dit duidelik dat daar 'n patroon van sterftes is wat voortspruit uit verwaarlosing en die gebrek aan dienslewering op baie regeringsvlakke.

"Tydens hul opleiding fokus dokters nie werklik op listeriose nie aangesien dit histories nie in Suid-Afrika teenwoordig is nie. Die feit dat dit nou op 'n ongekende vlak teenwoordig is in die land, is beduidend simbolies in wat verkeerd is met die ANC-regering.

"Dit is duidelik dat gereelde inspeksies van abattoirs en alle rolspelers in die voedselwaardeketting nie plaasvind soos dit hoort nie. Die feit dat die inspeksiefunksies tussen die departement van landbou en die departement van gesondheid verdeel word, dui op 'n gebrek aan samehangende strukturele beplanning om die publiek veilig te hou teen gesondheidsgevare.

"Daar moet ook verreken word dat van die proteïne wat voorkom in verwerkte vleis, bestaan uit sogenaamde wit slym of verwerkte hoender wat ingevoer word. Dit is kommerwekkend dat hierdie bestanddele nie geïnspekteer word vir veiligheid nie. Die aspek moet onmiddellik aangespreek word.

"Die regering sal ook onmiddellik moet sorg dat meer goed opgeleide gesondheidsinspekteurs aangestel word.

"Oor die algemeen sal die ANC-regering moet sorg vir ‘n hoër gehalte dienslewering, of ons sal in die toekoms meer epidemies in die gesig staar en internasionale rekords vir al die verkeerde redes breek." sê Alberts.

SHARE THIS:

RELATED POSTS

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.