fbpx
Freedom Front Plus
Search
Freedom Front Plus

VF Plus versigtig oor ANC-voorstel vir Sol Plaatje-burgemeester

Die VF Plus is versigtig oor die ANC se burgemeesterskandidaat vir die Sol Plaatje-plaaslike munisipaliteit (Kimberley, Ritchie) aangesien dit wil voorkom asof die ANC die proses vooruit wil loop.

In die eerste plek behoort die ANC nie "die volgende burgemeester" aan te kondig nie, maar wel sy kandidaat vir dié pos. Eers wanneer die munisipale raad 'n persoon tot burgemeester verkies, dien hy of sy in daardie amp.

Verder sal die nuwe burgemeester 'n diep verdeelde ANC-koukus moet verenig voordat 'n gewigtige lys uitdagings die hoof gebied moet word.

Die pos raak op 26 September vakant wanneer die huidige uitvoerende burgemeester, mnr. Mangaliso Matika, se bedanking in werking tree. Matika is eers deur sekere opposisielede en elf rebelle uit ANC-geleder uit sy pos verwyder voordat ‘n hof dié stap ongeldig verklaar het.

Nadat hy in sy pos herstel is, het hy onder klaarblyklike druk binne die ANC geswig en sy bedanking aangekondig. Die hele debakel het gevolg op onrus in Kimberley, hoofsaaklik weens die herstrukturering van kragtariewe.

Uitdagings wat die nuwe burgemeester te bowe moet kom, begin by die ANC-koukus. Hy sal partydissipline wil herstel, maar agt van die rebelle ANC-lede is wykskandidate. Tussenverkiesings in dié wyke kan die ANC se volstrekte meerderheid beëindig en 'n koalisieregering vir die stad inlui.

Nog 'n probleem is die twee topposte van munisipale bestuurder en hoof finansiële beampte. Albei hierdie amptenare is op voorkomende suspensie, hangende 'n ondersoek na beweerde onwettige optrede tydens die protesaksies in Kimberley. Administrasie kan eers na normaal terugkeer wanneer dié poste permanent gevul is.

Dan eers kan die oorsprong van die protes, naamlik herstrukturering van die stad se kragtariewe, hanteer word. Dié stap is in opdrag van NERSA geneem, maar was baie ongewild. As noodmaatreël is invordering van die vaste kragheffing van R260 deur Matika op ys geplaas, wat beteken dat Sol Plaatje besig is om 'n reuse finansiële agterstand op te bou.

Bogenoemde is 'n krisis wat die munisipaliteit getref het waar alles reeds nie klopdisselboom gegaan het nie. Water- en kragverliese, agterstallige onderhoud van paaie en ongedienste informele woongebiede het voor die tyd reeds bestaan en word elke dag erger.

Die nuwe burgemeester, of die persoon die ANC se kandidaat is of nie, kan op die VF Plus reken om 'n doeltreffende opposisie te wees, maar wat ook opbouend betrokke sal wees. Dienslewering aan die gemeenskap van Kimberley en omstreke is die hoogste prioriteit. Aan hierdie standaard sal die VF Plus homself en die nuwe burgemeester meet.

Kontaknommers: 074 166 5540

SHARE THIS:

RELATED POSTS

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.