Die Noord-Kaapse departement vir samewerkende regering het gister (Donderdag) 'n opsomming van 'n verslag oor finansiële wangedrag aan die munisipale raad van Sol Plaatje ( Kimberley, Ritchie) voorgelê. Dit bevat verdoemende bevindings, veral rakende die hoof finansiële beampte wat tans op voorkomende skorsing is. Die volledige verslag sal by 'n spesiale raadsvergadering behandel word.
In die voorlegging rakende die verslag is die betalingstelsel van die munisipaliteit, veral vir buitengewone betalings, sowel as kommunikasie met inwoners, gekritiseer. Sekere kontrakte is uitgelig as geleenthede waarby onreëlmatighede voorgekom het.
Die hoof finansiële beampte, wat tans op voorkomende skorsing is, is in verskeie van die bevindings genoem. Die komitee beveel aan dat dissiplinêr teen haar opgetree word, en in een geval ook 'n kriminele klag gelê word. Weens die munisipale bestuurder se status as rekenpligtige beampte moet alle optrede teen haar ook teen hom ingestel word – hy is in die finale instansie verantwoordbaar.
Kritiek is ook ingebring teen pogings om die twee senior amptenare se epos-rekenings te aktiveer terwyl hulle geskors was. Dit dui op die weerloosheid van die munisipaliteit se inligtingstelsel.
In sy reaksie het die VF Plus se provinsiale leier en raadslid in Sol Plaatje, dr. Wynand Boshoff, gesê Kimberley het sy eie stukkie staatskaping blootgelê.
Teen dié agtergrond is dit onverstaanbaar dat Sol Plaatje slegs voorsiening maak dat die twee groot partye, die ANC en die DA, op stadsraadskomitees kan dien. Ander partye het wel sittingsreg, maar nie stemreg nie.
Soms beskik hierdie lede egter oor spesialiteitskennis wat van groot waarde kan wees. Die VF Plus beywer hom dus vir die verandering van die stelsel, sodat elke raadslid tot goeie regering kan bydra.
Kontaknommers: 074 166 5540