Die ANC se blinddoek-benadering tot die vlaag plaasaanvalle in die land sedert president Cyril Ramaphosa se aankondiging dat grond sonder vergoeding onteien gaan word, laat ‘n veiligheidsleemte op plase wat tans hand uitruk en versterk die persepsie in die buiteland dat massa-vervolging van boere in Suid-Afrika plaasvind.
Terwyl die minister van internasionale verhoudings en samewerking, Lindiwe Sisulu, boos raak vir die feit dat die buiteland plaasaanvalle toenemend beskou as grootskaalse vervolging van boere in Suid-Afrika, doen haar regering niks om die veiligheid van boere te verseker nie.
Gedurende dieselfde naweek wat sy diplomatieke vrede tussen Australië en Suid-Afrika probeer bewaar het, is Chris du Plooy (80) Maandagoggend op sy plaas in die Paul Roux-distrik vasgebind en verskeie kere met ‘n mes gesteek.
‘n .38-Rewolwer en haelgeweer is in die aanval gebuit en die twee aanvallers is steeds op vrye voete. Sisulu kan egter nie meer die waarheid van die wêreld wegsteek nie, want die buiteland het kennis geneem van plaasaanvalle.
Sisulu se eie regering is verantwoordelik vir die toenemende persepsie dat boere in Suid-Afrika op wreedaardige wyse vervolg en vermoor word. Sisulu se eie regering versterk persepsies dat boere grond gesteel het.
Dit is ook Sisulu se ANC wat grondonteiening sonder vergoeding in Suid-Afrika wil versnel, maar nie antwoorde kan verskaf oor hoe hulle gaan keer dat dit nie met geweld gepaard sal gaan nie, soos tans die geval is.
Sisulu se eie regering het bloed op sy hande met elke ‘n boer wat aangeval word en sy gaan toenemend onder druk wees om internasionale vrae daaroor te beantwoord.
Die VF Plus sal aanhou om druk op die regering te plaas om plaasaanvalle tot prioriteitsmisdaad te verklaar en om die internasionale gemeenskap in te lig oor die veiligheidsvakuum op plase wat deur die ANC veroorsaak word.
Navrae:
Jan van Niekerk
083 743 2042
Armand Cloete
076 629 6219