Die voortslepende finansiële krisis van die Emfuleni-munisipaliteit (Vanderbijlpark, Sebokeng, Evaton en Vereeniging) het ‘n reuse negatiewe impak op inwoners van Risiville. Risiville is geleë op die grens van die Emfuleni- en Midvaal-munisipaliteit (Meyerton, Vaal Marina, Wakerville en Henley-on-Klip).
Dié inwoners is in ‘n skaakmat-posisie omdat hulle Midvaal-munisipaliteit vir dienste betaal terwyl dié dienste deur die Emfuleni-munisipaliteit gelewer word. Met die verdere verlaging van waterdruk na die gebied plaas dit die inwoners van Risiville in ‘n onuithoubare situasie.
Die VF Plus het vasgestel en bevestig dat Midvaal jaarliks bykans R13 miljoen aan Emfuleni betaal vir watervoorsiening aan die gebied. Hierdie betaling word jaarliks gedoen en nie maandeliks soos voorgeskryf deur die gesamentlike ‘munisipaliteite -ooreenkoms’ nie.
Midvaal-stadsraad funksioneer reeds langer as ‘n dekade onafhanklik van Emfuleni-stadsraad en hy moes hierdie oorskakeling jare gelede reeds gedoen en afgehandel het.
Midvaal het jare gelede reeds kwotasies bekom vir die direkte waterkoppeling van Risiville aan die Rand-Waterlyn. Die beraamde koste sou omtrent R12 miljoen beloop het.
Dit is verstommend dat Midvaal die inwoners van Risiville aan hierdie groot ongerief onderwerp as die positiewe effek van hul bydrae tot die Midvaal-begroting in ag geneem word. Dit terwyl miljoene rande bestee word aan die verfraaiing van die Sicelo-nedersetting en verskeie ander nodelose uitgawes en wanbetalings.
Die VF Plus dring daarop aan dat die DA-beheerde stadsraad van Midvaal onmiddellik noodbefondsing toestaan en die begroting hersien ten einde die Risiville-probleem op te los. Die aanry van water na Risiville is nie volhoubaar nie en ook geen oplossing vir veral die siek en bejaarde inwoners van Risiville nie.
Kontaknommer: 071 640 7283