Die onvermoë van die Merafong City-plaaslike munisipaliteit om sy kragrekening te betaal, het die afgelope weke gereelde kragonderbrekings in groot dele van Fochville veroorsaak.
‘n Brandpunt tussen Eskom en die Merafong-munisipaliteit het ontstaan na ‘n reuse transformator by die hoofsubstasie in Fochville deur weerlig beskadig is. Groot dele van Carletonville, Fochville en Kokosi is op beurtkrag geplaas terwyl Eskom en die munisipaliteit in onderhandelings betrokke was oor die herstelkoste.
Eskom het die munisipaliteit versoek om R10 miljoen op sy agterstallige Eskom-rekening te betaal voordat herstelwerk aan die transformator kan begin. Die munisipaliteit het aangevoer hy staan by die bestaande afbetalingsooreenkoms en hy het nie addisionele fondse om Eskom te help nie.
Die tweede transformator het nie die vermoë om die dele wat geraak word van krag te voorsien nie, en beurtkrag is toe ingestel.
Die VF Plus se Gautengse wetgewerslid, Amanda de Lange, het die saak op provinsiale vlak opgeneem met die LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake, Lebohang Maile en die Gautengse premier, David Makhura. Enkele ure daarna is met die herstelwerk begin.
Die benarde finansiële toestand van die kragvoorsiener is ‘n direkte gevolg van munisipaliteite wat swak bestuur word en nie hul skuld aan Eskom betaal nie. Dit is jammer dat inwoners van Merafong moet boet vir die ANC-leierskap se onvermoë om te regeer.
Daar word al meer van die provinsiale- en nasionale tesourie verwag om as borg op te tree vir agterstallige munisipale skuld en die versuim om te betaal vir dienste. Die VF Plus moedig inwoners aan om klagtes by die Wesrand-streekkantoor (O10 446 8882) in Krugersdorp aan te meld.
Navrae:
Ben van der Berg: 082 671 2302
Amanda de Lange: 071 604 9498