fbpx
Freedom Front Plus
Search
Freedom Front Plus

Korrupsie van lede van Tshwane-metropolisie sal nie geduld word nie

Die inhegtenisneming van twee lede van die Tshwane-metropolisie wat hulle aan beweerde ongerymdhede skuldig gemaak het, moet dien as waarskuwing dat die metro korrupsie nie langer sal duld nie.

Die twee beamptes is in hegtenis geneem terwyl hulle sonder toestemming in ʼn privaat voertuig buite hul jurisdiksiegebied in Diepsloot, Johannesburg, diens gedoen het.

ʼn Verdere sewe amptenare word ook intern ondersoek nadat hulle in twee afsonderlike voorvalle oor die afgelope langnaweek buite die gebied van Tshwane diens gedoen het.

ʼn Klag van afpersing en diefstal word teen vyf ander lede ondersoek.

Twee lede word ook ondersoek waar hulle op die N1-Suid naby Lynwoodweg besig was om motorbestuurders vir alkoholverbruik te toets sonder ʼn wettige blaasapparaat.

Die lede het die blaasapparaat in die gras weggegooi nadat hulle deur lede van die integriteitseenheid genader is. Dit is as bewysstuk ingedien.

Bestuur onder die invloed van drank is onwettig, maar so ook afpersing.

Die uitslag van ʼn blaasapparaat alleen kan nie gebruik word om ʼn persoon se bloedalkoholvlak te bepaal nie. ʼn Bykomende bloedtoets moet gedoen word om as bewysstuk voor die hof te dien.

Die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) is by die ondersoek betrek om die plaag van wetteloosheid onder metro-polisielede uit te roei.

Die onwettige bedrywighede van metro-polisielede plaas ʼn klad op die naam van die metro se departement van gemeenskapsveiligheid.

Motoriste word aangemoedig om dadelik sulke wangedrag aan te meld by die integriteitseenheid van die Tshwane-metropolisie by 083 657 2998. ʼn E-pos kan ook gestuur word aan tmpcomplaints@tshwane.gov.za.

SHARE THIS:

RELATED POSTS

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.