Sanral se aankondiging dat dagvaardings en regstappe rakende e-tol gestaak gaan word, is duidelik ‘n politiek-gemotiveerde besluit en wys hoe desperaat die ANC is om nie verdere steun in dié provinsie te verloor voor die verkiesing in Mei nie.
Die VF Plus is namens alle motoriste verheug om van die besluit te verneem. Dit dui op ‘n duidelike besef by die ANC-regering dat e-tol geen legitimiteit het nie soos die VF Plus nog deurentyd aangevoer het.
Die ANC se steun in Gauteng is waarskynlik reeds ver onder 50% en hierdie besluit is ‘n duidelike bewys hoe bang die ANC is om verdere steun te verloor.
Die VF Plus het jare lank geveg in die stryd teen e-tol en die party was eerste om ‘n petisie teen e-tol te loods wat meer as 100 000 handtekeninge gekry het en was ook ‘n lid van die Tolhek-Aksiegroep (TAG) wat die stelsel in die hof probeer stop het.
Die party eis dat alle regsuitgawes wat aangegaan is om e-tol te stop deur die Tolhek-Aksiegroep bestaande uit die VF Plus, die Transvaalse Landbou Unie van Suid-Afrika (TLU SA) en die Nasionale Belastingbetalers Unie (NBU), verhaal moet word van die staat.
Dit sluit ook Outa en alle ander partye in wat geld aan dié stryd bestee het aangesien dit verspilde uitgawes is waartoe die staat hulle gedwing het.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 065 801 7216