Die optrede van die Menseregtekommissie (MRK) teen Faith Mazibuko, Gautengse LUR vir sport en ontspanning, was niks anders nie as ‘n ligte raps oor die vingers vir haar rassistiese optrede teen twee senior bestuurders wat ‘n veel swaarder straf vereis het.
Die VF Plus verwelkom nogtans die feit dat die MRK opgetree het, maar vermoed dat Mazibuko se optrede simptomaties was van ‘n wyer verskynsel van neerdrukkende optrede teen minderhede, nie net in Gautengse regeringskringe nie, maar ook elders in die land.
Die VF Plus het verlede maand ‘n klag teen by die MRK ingedien oor Mazibuko se optrede en het die MRK versoek om, bykomend tot die ondersoek na haar optrede teen die amptenare, ook wyer ondersoek in te stel na die indiensnemingspraktyke van al die departemente in die Gautengse regering.
Dié versoek is gerig aangesien Mazibuko se uitlatings die indruk skep dat vernederende en onbillike praktyke teen minderhede die norm geword het en dat dieselfde behandeling ook geld met die indiensneming van minderhede in regeringsdepartemente van die provinsie.
Indien die MRK nie die mannekrag of die vermoë het om so ‘n omvattende ondersoek te doen nie, moet dit oorgegee word aan ‘n instansie wat wel in staat is om te bepaal of dié provinsie se indiensnemingspraktyke korrek en sonder diskriminasie teen minderhede toegepas word.
Ook of dit in lyn is met die MRK se eie verslag van 2016 oor gelyke indiensneming waar bevind is die nasionale regering fouteer deur aanstellings te doen op grond van kleur. Die MRK het aanbeveel dat indiensnemings gedoen moet word op grond van sosio-ekonomiese omstandighede en nie ras nie.
Dit is daarom onaanvaarbaar dat aanstellings steeds op grond van kleur geskied, en dié onreg kan nie verder gevoer word deur die vernederende behandeling van wit, bruin- en Indiër werknemers nie.
Die VF Plus en ek self as premierskandidaat vir Gauteng eis ‘n behoorlike ondersoek na die aangeleentheid. Die MRK as ‘n Artikel 9-instansie moet sodoende uitvoering gee aan hul eie verslag van 2016.
Hierdie diskriminasie teen minderhede in regeringskringe wys weereens dat die ANC in Gauteng vervang moet word met ‘n koalisieregering.
Sou die VF Plus deel vorm van so ‘n koalisieregering, sal die party seker maak dat meriete teruggebring word as kriterium vir aanstellings en dat rasse-diskriminasie beëindig word, selfs al moet die koalisieregering die nasionale regering daaroor voor die hof daag. Die VF Plus sal bly terugslaan teen onbillikheid.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 065 801 7216