Die geskiedenis van die Afrikaner is nog altyd gekenmerk deur uitdagings en stryd en sy erfenis is gebou op geweldige ontberings soos in die Anglo-Boereoorlog waar veral vroue en kinders die grootste slagoffers was.
Hierdie erfenis dien ook as bewys dat die Afrikaner nog altyd die deursettingsvermoë en geloof gehad het om uitdagings te oorwin en telkens sterker en meer gelouterd uit die smeltkroes te kom.
Dié eienskap van die Afrikaner is deel van die wye diversiteit van die Suid-Afrikaanse samelewing wat juis op Erfenisdag gevier word en wat dien tot kollektiewe bate vir die land en al sy mense.
Die Afrikaner bevind hom tans voor een van die grootste uitdagings in sy geskiedenis. Daar is ‘n felle aanslag teen sy erfenis met pogings om dit te demoniseer terwyl wetgewing soos Regstellende Aksie (RA), onteiening sonder vergoeding en ‘n ekonomiese insinking groot uitdagings bied.
Die vorige president, Jacob Zuma, het openlik gesê alles in die land het skeefgeloop nadat die Afrikaner se voorsate (Jan van Riebeeck) in die land aangekom het.
Die waarheid is dat die Afrikaner ‘n trotse geskiedenis het waar hy deur die eeue nog altyd die hand van vriendskap na ander uitgesteek het, en net gebou het en nie afgebreek het nie. Hy doen dit steeds en sal daarmee voortgaan.
Afrikaners kan trots wees op hierdie nalatenskap en die tyd het aangebreek om dit weer sonder skroom te omarm en te beskerm.
Soos in die verlede sal hy ook in hierdie krisistyd voortgaan om die aanslae teen hom af te weer om sterker die toekoms in te gaan.
Kontaknommers: 083 627 4397 / 065 801 7216