Die VF Plus het die polisie in Carletonville versoek om sy patrolliediens op te skerp na nog ‘n substasie Maandagnag in Cobaltstraat in Carletonville gevandaliseer is en inwoners van verskeie strate sonder elektrisiteit gelaat is.
Misdadigers is besig om die kragnetwerk in die Merafong-plaaslike munisipaliteit (Carletonville, Fochville, Wedela) te vernietig deurdat drie substasies die afgelope week gevandaliseer is.
‘n Private sekuriteitsmaatskappy wat besig was met patrolliediens, het die booswigte by die substasie in Cobaltstraat betrap waarna hulle weggehardloop het. Huiseienaars in Monazite-, Granite-, Chrome-, Onyx-, Lang- en Suidstraat is sedertdien sonder elektrisiteit.
‘n Mini-substasie op die hoek van Barnard Selanti- en Douglasstraat in Carletonville is op 12 Augustus oopgebreek waarna kabels en elektriese-toerusting gesteel is. Vyf strate, Ink-, Phillips-, Barnard-, Douglas- en Banfieldstraat is deur die onderbreking geraak.
Die munisipaliteit het laat die aand eers daarin geslaag om die kragtoevoer te herstel.
Die substasie in Blyvooruitsig wat ook verlede week gevandaliseer is, is nog nie herstel nie.
Eskom het steeds geen aanduiding gegee wanneer die herstelwerk van sowat R5,2 miljoen sal begin nie.
Die munisipaliteit se poging om sekuriteitskameras by die substasies te installeer, dien as geen afskrikmiddel vir misdadigers nie.
Sigbare polisiëring by sleutelpunte in Carletonville is dringend noodsaaklik om diefstal en vandalisasie hok te slaan wat die dorp se ekonomie skade berokken.
Die VF Plus is bewus daarvan dat die polisiekantoor in Carletonville ‘n tekort het aan onder meer voertuie, mannekrag, vuurwapens en ammunisie en gaan daarom sy wetgewerlid vir gemeenskapsveiligheid, Kobus Hoffman, vra om dit dringend met die provinsiale polisiekommissaris lt.genl. Elias Mawela, te bespreek.
Maksimum vonnisse moet ook aan skuldiges op gelê word om ‘n boodskap te stuur dat dié soort misdaad nie geduld sal word nie.
Navrae: 082 6712302