Suid-Afrika se begroting vir korrektiewe dienste is R25,4 miljard. Die begroting vir basiese onderwys is R24,5 miljard. Wat ‘n tragedie dat die belegging in kinders, wat die toekoms van die land is, R0,9 miljard minder werd is as dié van die land se gevangenisse wat misdadigers huisves.
Dit sal die regering van groot nut wees om die volgende woorde van Benjamin Franklin ter harte neem: “ ‘n Belegging in kennis lewer die beste opbrengs”. Hoofstuk 2 van Suid-Afrika se Grondwet maak ook voorsiening vir die reg van elke kind tot basiese onderwys, en om in die taal van hul keuse onderrig te word.
Onderwys en opleiding moet die jeug vir die arbeidsmark voorberei. Tog het navorsing bevind dat 80% van leerlinge wat tans skool verlaat, nie vir die werksplek opgelei of voorberei is nie. Daar is verskeie redes hiervoor:
• Kurrikulumontwerp-benadering is nie opvoedkundig en maatskaplik verantwoordbaar nie en die kurrikulum bied nie genoeg geleenthede om die vaardighede te ontwikkel wat ‘n moderne samelewing vereis nie.
• Kurrikula is nie polities neutraal nie en weerspieël bepaalde politieke ideologieë.
• Onderwysowerhede het, tydens die demokratisering van Suid-Afrika, radikale en revolusionêre onderwysveranderinge eerder as geleidelike evolusionêre veranderinge voorgestaan. Dit het generasies jeeugdiges benadeel.
• Die afskeep van moerdertaal-onderrig dra by tot swak prestasie en die hoë uitvalsyfer.
Die feit dat Afrikaans en Engelssprekende leerders in hul moedertaal onderrig ontvang, verklaar waarskynlik waarom ’n groter persentasie van hierdie leerders, vanaf graad 1 tot graad 12 op skool bly. Selfs op tersiêre vlak hou moedertaal-onderrig meetbare voordele in.
Vroeëkinderontwikkeling is uiters belangrik en moet die verantwoordelikheid wees van die departement van onderwys en nie van maatskaplike ontwikkeling nie.
‘n Internasionale opname (The Progress in International Reading Literacy Study) het aangetoon dat agt uit tien Suid-Afrikaanse leerlinge nie behoorlik kan lees nie en 78% van leerlinge in graad 4 verstaan nie wat hul lees nie. In die opname het Suid-Afrika laaste uit vyftig land gekom. Leesvaardighede moet opgeknap word wat die fokus terugplaas op moedertaal-onderrig.
Skole is oorvol en daar is ‘n gebrek aan dissipline onder leerlinge en onderwysers. Volgens die Menseregtekommissie (MRK) het protes-aksies ook ‘n negatiewe impak op onderwys. ‘n Voorbeeld is Limpopo waar 26 skole tot in 2016 afgebrand is wat 10 233 leerlinge geraak het.
Die VF Plus het om hierdie rede ‘n privaatlid-wetsontwerp ingedien wat beoog om optogte binne ‘n radius van 500m vanaf skole en ander plekke waar minderjariges teenwoordig is te verbied.
Die ANC-regering kan alleen die skuld kry vir die chaotiese toestand van die land se basiese onderwysstelsel. Die land se kinders is sy kosbaarste besitting en nie ‘n politieke speelbal nie.
Kontaknommer: 079 885 1135


