fbpx
Freedom Front Plus
Search
Freedom Front Plus

Afgedankte perlemoen-adjunkdirekteur-generaal in nuwe pos is skokkend: VF Plus eis dat strafregtelike stappe ingestel word

In ‘n skokkende voorbeeld van die ANC se omarming van onaanvaarbare en waarskynlik misdadige optrede, is ‘n adjunkdirekteur-generaal in ’n toppos in die Oos-Kaapse regering aangestel skaars vyf dae nadat sy weens diefstal by haar vorige departement afgedank is.

Dit dien opnuut as bewys van die ANC se geneigdheid om kaders en amptenare wat by ongerymdhede betrokke is, bloot in ‘n ander plek en in ‘n ander pos te ontplooi.

Siphokazi Ndudane is onlangs weens diefstal uit haar amp as adjunkdirekteur-generaal van die nasionale departement van landbou, bosbou en visserye afgedank. Woensdag het Oscar Mabuyane, premier van die Oos-Kaap, aangekondig dat sy as die nuwe departementshoof vir landelike ontwikkeling en landbouhervorming in dié provinsie aangestel is.

Ndudane se tugverhoor het van 25 tot 29 November geduur en sy is skuldig bevind aan die diefstal van drie ton perlemoen. Die perlemoen van sowat R7 miljoen is in Desember 2017 of Januarie 2018 by die departement se pakhuise in Paardeneiland gesteel. (Ndudane weens diefstal afgedank, kry steeds toppos; Netwerk24, 6 Desember 2019).

Die VF Plus dring daarop aan dat die departement (landbou, bosbou en visserye), strafregtelike stappe teen Ndudane laat instel.

Hierdie aangeleentheid strek egter veel wyer as dit. Die departement sal moet verduidelik waarom die verantwoordelike amptenaar of amptenare nie onmiddellik die polisie in kennis gestel het nadat die beweerde misdaad aan die lig gekom het nie.

Die bedrag wat die departement self noem, is R7 miljoen. Dit is misdaad van ‘n skokkende groot omvang en Ndudane kon onmoontlik nie alleen daarby betrokke gewees het nie.

Die VF Plus sal ‘n brief aan die minister van staatsdiens en administrasie skryf om besonderhede te verkry oor die aangeleentheid en om daarop aan te dring dat die polisie die saak sonder meer ondersoek en dat onmiddellike stappe geneem word teen ander amptenare en persone wat betrokke mag wees.

Kontaknommer: 072 997 8315

 

SHARE THIS:

RELATED POSTS

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.